Malan Vonk Nuusbrief - Maart 2010
Wat is Malan Vonk?
Ons nuwe kwartaallikse elektroniese nuusbrief. Die bestuur van die Familiebond het besluit om voortaan op hierdie manier te kommunikeer om in pas met die moderne wêreld te kom. Die e-posadresse is verkry van Malans wat die 2009 vraelys voltooi het. Malan Vonk se naam is afgelei van die pragtige Afrikaanse nuutskepping vir e-pos nl. vonkpos. Ons wil hierdeur skakeling met die familie bewerkstellig en almal op hoogte hou van wat met die Malans gebeur. Stuur maar enige beriggie aan as u inligting wil deurgee.
Die toekoms van die Malan Familiebond
Ou lede van die Familiebond sal daarvan bewus wees dat daar die afgelope paar jaar baie min kommunikasie met bondslede was. Daar was egter wel 'n paar saamtrekke, almal in Franschhoek. Die grootste probleem was dat dit baie moeilik was om die skoene van ons vorige voorsitter en redakteur van ons jaarblad Deus Arx Mea, J C Malan, vol te staan. Ons wil nou, met die 21 ste bestaansjaar van die Malan-Familiebond, met 'n nuwe inisiatief begin. Malan Vonk is die begin daarvan. Ons wil so veel as moontlik van die Malans betrek in die bestuur en ook almal wat 'n bydrae wil lewer as medewerkers betrek.
Ledegeld
Om die Malan Familiebond te bedryf kos ongelukkig, soos alle ander dinge in die lewe, geld. Die ledegeld vir 2010 is vasgestel op R125 en kan by die volgende rekening inbetaal word: Malan Familiebond ABSA rek. no xxx xxx xxxx. Bewys van betaling kan gestuur word aan Dennis Malan by (Stuur e-pos aan Dennis) of xxx-xxxxxxx (telefoon/fakslyn) of gepos word na xxxxxxx. Dennis kan ook gebel word by xxxxxxxxx. Niks keer u natuurlik om bo en behalwe die ledegeld 'n verdere vrywillige bydrae te maak nie! Alle bydraes sal in Malan Vonk erken word. In ruil vir u ledegeld sal u behalwe vir Malan Vonk die jaarblad Deus Arx Mea ontvang asook 'n korting as u saamtrekke sou bywoon.
Die inligting hierbo aangedui met xxxx kan aangevra word by die Webmeester. Stuur e-pos aan die Webmeester.
As u nie lid van die Familiebond wil word nie, kan u steeds die Malan Vonk gratis elektonies ontvang. As u egter wil hê dat die nuusbrief aan u gepos moet word, moet ons egter 'n bedrag van R30 vra. Dit kan by bogenoemde rekening inbetaal word. Skryf by die bewys van betaling MALAN VONK asseblief. As u nie teen 30 April 2010 betaal het nie, sal u ongelukkig van die poslys afgehaal word.
Bestuur
'n Nuwe bestuur sal in Mei verkies word. U kan u self beskikbaar stel of iemand nomineer. Die bestuur bestaan uit die voorsitter (tans Dennis Malan), ondervoorsitter (tans Hercules Malan), sekretaris/penningmeester, redakteur van Deus Arx Mea en streeksverteenwoordigers (Kaap, Sentraal-Suid-Afrika en Transvaal). Laat ons asseblief weet as u enige voorstelle oor die struktuur van die Familiebond het. Nominasies deur betaalde Bondslede sal tot 30 April 2010 aanvaar word. Voorgestelde bestuurslede moet natuurlik ook opbetaalde bondslede wees. U kan uself ook bekikbaar stel as medewerker vir familienavorsing, reël van saamtrekke, bydraes vir Malan Vonk en Deus Arx Mea, skryf van publikasies en enigiets anders wat vir die Malanfamilie in Suid-Afrika of wêreldwyd van waarde kan wees.
Malan saamtrekke
Aangesien die Malan Familiebond vanjaar 21 jaar oud is, is besluit om twee saamtrekke te hou nl. op Saterdag 11 September in Pretoria en Saterdag 9 Oktober in Franschhoek. Ons beoog ook 'n toer na historiese Malanplase in die Paarl, Wellington en Riebeeck-Wes op Vrydag 8 Oktober. Is daar dalk voorstelle vir 'n soortgelyke toer in die Pretoria-omgewing? Die datums is voorlopig en die lokale en program sal later gereël word.
Malan Publikasies
Die volgende boeke is pas herdruk en is nou by Dennis (adres hierbo) of die Hugenote Gedenkmuseum in Franschhoek beskikbaar:
- Internasionale Malan Reënie 2000 / International Malan Reunion 2000. Prys R90.
- Malan Memorial Book. Prys R120.
- Escape of Jacques Malan. Prys R80.
- Het Familiewapen Malan. Prys R50.
- Dr D F Malan (Pamflet). R10.
- Malan Video (Afrikaans). Prys R110.
Adreslys
Ons verwelkom e-posadresse van ander Malans of ander belangstellendes wat graag Malan Vonk sou wou ontvang of by die Familiebond wil aansluit. As u nie Malan Vonk wil ontvang nie, nie moet u my asseblief net vra om u van die poslys af te haal. Laat my asseblief ook weet as u Malan Vonk by 'n ander adres wil ontvang of as u dit by meer as een adres ontvang het.
Our English speaking family
Of the 132 Malans who filled in their questionnaires in 2009, less than 5% indicated that there home language was English. I suspect that the percentage of South African Malans who are English speaking may actually be higher, but that some didn't respond because they received their letters in Afrikaans (Unfortunately I had no way of telling from the postal addresses whose home language were Afrikaans or English). If you are unable to understand any Afrikaans I would appreciate it if you could let me know so that I could send all your correspondence in English. As I simply don't have the time to translate everything I would also like to ask for a volunteer to translate future newsletters in English. All correspondence will be answered in the language in which it was received and any English contributions to Malan Vonk received in English will be published in English.
Al trek ons al by Maart wil die bestuur van die Malan Familiebond alle ou en nuwe lede 'n besondere geseënde 2010 toewens. Ons vertrou dat ons spoedig van julle sal verneem.
Malan familiegroete.
Die Bestuur.
Opgestel deur Hercules Malan
