ANTOINE MALAN VAN LUSERNA - VOOROUER VAN DIE SUID-AFRIKAANSE MALANS?
(Die stuk geskryf deur H.M. Malan het verskyn in die Familia XXIX/1992 No.2 bl. 40)
Volgens H.V. Malan (1) het die Malan de Márindol in ongeveer 1112 van die Waldensiese valleie in Piedmont na Márindol geëmmigreer.
Hierdie datum word herhaaldelik in verskeie publikasies oor die Malan-familie genoem.
Volgens 'n later publikasie (2) word dit gestel dat Márindol teen die einde van die veertiende eeu deur sy inwoners aan die wildernis oorgelaat is nadat eers die pes van 1348 en daarna 'n bloedige oorlog van 1390 tot 1400 tussen Raymond van Toulouse en Louis II van Provence die bevolking feitlik uitgeroei het. Dieselfde lot het ander dorpe van die Luberon getref. Louis II het uiteindelik die Aiguesvallei en die hange van die Luberon aan Centallo en Demante seigneurs van Piedmont, verkoop om sy oorlogskuld te dek. Laasgenoemde het Waldensers uit Piedmont aangemoedig om hulle in die verlate landstreek te vestig en verskeie Waldensiese nedersettings is langs die Durancerivier gestig.
Márindol is eers in 1504 weer bewoon en Saint-Martin-de-Aigues in 1506 (3).
In 1520 word die naam van ene Antoine Malan van Luserna as getuie by 'n huwelik op La Motte d'Aigues gevind.
Luserna is natuurlik Luserna San Giovanni in die Waldensiese valleie van Piedmont.
La Motte is slegs 'n kilometer van St. Martin-de-Aigues waarvandaan Jacques Malan, die Suid-Afrikaanse stamvader, in 1687 gevlug het (4). Wat nog meer merkwaardig is, is dat Jacques 'n oom met die naam Antoine Malan gehad het.
Ons vind dus 'n persoon met 'n naam wat in Jacques se familie bekend was in dieselfde omgewing. Dit is ook duidelik dat hy nie daar gebore is nie aangesien dit pertinent aangedui word dat hy van Luserna afkomstig was.
Ofskoon Jacques se afstamming waarskynlik nooit vasgestel sal kan word nie omdat daar slegs fragmente van kerkregisters uit die vyftiende en sestiende eeu oorgebly het, lyk dit tog waarskynlik dat Antoine Malan van Luserna 'n voorouer van Jacques Malan van Saint Martin de-la-Brasque (soos Saint Martin d'Aigues later genoem is) was.
Daar kan ook gespekuleer word dat die Aiguesvallei die oorspronklike woonplek van die Malans van die Luberon was en dat dat van hulle eers later na Márindol getrek het of dat die Malans van Márindol van ander Malans van Piedmont afstam.
Verwysings
1. Malan, H V de Márindol: The Malan de Márindol. London Privately printed 1863. Reprinted Lissabon 1969.
2. Peyre, B: Histoire de Márindol en provence Marseille Laffitte Reprints 1971. (Réimpression de l'édition d'Avignon 1939.)
3. Audisio, Gabriel: Les Vaudois du Luberon. Une minoritë en Provence (1460-1560) Association d'Etudes Vaudois et Historiques du Luberon 1984.
4. Boucher, M: French Speakers at the Cape in the first hunderd years of Dutch East India Company rule: The European background. Revised edition. Pretoria 1983.
