MALAN VONK - April 2011
PAASFEESBOODSKAP - Geseënde Paasfees julle toegewens!
PAASFEES EN DIE HANDJIE-KLAP SPELETJIE.
Ek verstom my altyd aan die vaardigheid en spoed waarmee laerskooldogtertjies hulle handeklap speletjies speel. En hoe hierdie handjie-klap maats onafskeidbaar is. Wanneer ons hierdie beeld in gedagte hou kan ons 2 Korintiërs 5:19, en die baie moeilike begrip versoening, dalk beter verstaan. "Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het..." (2 Korintiërs 5:19). Die Grieks vir versoening is καταλλáσσω (katalassó). Louw & Nida gee die betekenis idiomaties wees as, to cause to become friends again; to cause to snap fingers again; to take away the separation. Om versoen te wees, is om weer saam vingers te klap. Soos die laerskooldogtertjies tussen wie all verwydering en hindernisse verwyder is, en hulle geniet hul hegte vriendskap deur hul handjie-klap speletjie te speel. En so is ek en jy deur Christus met God versoen, kan ek en jy met God die handjie-klap speletjie speel omdat alle verwydering en hindernisse in Christus verwyder is!
In dieselfde vers verduidelik Paulus hoe Christus die verwydering en hindernisse tussen ons en God verwyder het, "...en die mense hulle oortredinge nie toereken nie". Die Grieks vir toereken is λογιζομαι (logizomai), to take an inventory, to keep mental record (to add up in one's mind), to charge to account. Dus die Here hou nie boek van my en jou skuld nie, skryf dit nie op nie, maar staan Hy self in vir óns (sonde-)rekening!
'n Belangrike aspek van die versoeningsproses is om aan te dui wie oorspronklik verantwoordelik was vir die verwydering - Wie moet die skuld dra? Die persoon wie die eerste tree nader gee om versoening te bewerk, erken gewoonlik daarmee dat hy/sy te blameer is vir die verwydering. In vers 18 verklaar Paulus dat, "...dit alles God se werk" is! Dit terwyl ons weet dat dit nie Hy was wat drooggemaak het nie, maar óns! En tog, is dit Hy wat die inisiatief neem, die eerste tree gee om die verwydering tussen ons en Hom op te hef!
Nou verstaan ons dalk vers 13 beter, "As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God..." - geestesvervoering is εζιστημι (ekshistemi) in Grieks, to put out of wits; to astound; to become insane; to be beside self. En dis presies die treffende van hierdie vers, dat ek en jy so 'n bietjie mal (crazy) kan gaan vir Hom, vir dit wat Hy vir ons gedoen het; buite onnself kan wees omdat Hy die eerste tree gegee het, omdat Hy alle verwydering en hindernisse uit die weggeruim het, ons met Hom versoen... en nou kan ons weer die handjie-klap speletjie met God speel!
Mag jy 'n geseënde Paastyd hê!
Opgestel deur Dr Chris Malan Jeugleraar NG Gemeente Doornpoort
Die Malan Vonk
Hierdie elektroniese nuusbrief is die breinkind van Dr Hercules Malan van Polekwane een van die outeurs van Die Malans van Suid-Afrika (1998) en Onder-voorsitter van die Bond. Die doel van die Malan Familiebond is om op hierdie manier met familielede te kommunikeer. Enige beriggie is dus baie welkom. Vir hierdie doel het ons 'n nuwe hofie geskep getiteld "Kontreinuus."
Deus Arx Mea
Aangesien ons nog nie 'n volwaardige Redakteur het nie, het die voorsitter dit op hom geneem om voorlopig die Deus Arx Mea die lig te laat sien. Dit is 'n groot uitdaging, maar ook 'n baie moeilike een om aan die standaarde deur die vorige redakteur J C Malan daar gestel, te beantwoord. Om die DAM saam te stel het ons bydraes nodig en dit is net daar waar die probleem lê. Met 'n gesukkel het ons nou 'n paar artikels ontvang, maar sien daarna uit om nog van ons lede te hoor. Ons mikpunt is om die Deus Arx Mea in die volgende 2 maande uit te gee.
Malan Saamtrekke - 2011
Pretoria - 5 en 6 Augustus 2011
Die planne vir Vrydag die 5de bly nog dieselfde nl. 'n besoek aan Koos Malan se graf te Doornpoort, Koster met 'n besoek aan 'n Malan-plaas in die omgewing van die Hartebeespoortdam.
Ons is nog op soek na 'n geskikte plek te Pretoria waar ons op Saterdag die 6de 'n ligte middagete kan nuttig en behoorlik 60 jaar kan herdenk, sedert die eerste Malan byeenkoms te Franschhoek onder beskerming van Dr D F Malan plaasgevind het. Ons dink bv. aan die Voortrekker Monument of Kleinkaap, 'n Malangastehuis te Clubview of Rietondale Lodge te Soutpansbergweg. Het een van julle 'n beter idee?
Franschhoek/Somerset-Wes - 7 en 8 Oktober 2011
Ons oorweeg dit sterk om Vrydag die 7de 'n besoek te bring aan Malanplase te Somerset-Wes. Aangesien Morgenster vanjaar sy 300ste verjaardagvieringe op 15 April 2011 gehou het en ons 'n uitnodiging van die eienaar Giulio Bertrand ontvang het om op 7 Oktober 'n besoek aan Morgenster te bring. Die volgende Malanplase sal ook besoek word nl. Vergelegen, Lourensford, Knorhoek, Navarre en Stonewall.
Morgenster - 300-jarige Feesvieringe
As voorsitter van die Malan-Familiebond het ek en my gade Ina 'n onbeskryflike ervaring gehad om as gaste van Giulio en Mirella Bertrand eienaar van Morgenster, te Somerset-Wes die 300-jarige feesvieringe op 15 April by te woon. Let egter daarop dat die aankoop van die plaas De Morgenster in die Hottentots Holland area deur Jacques Malan op 28 Mei 1711 geskied het. Ons het namens die Malan-Familiebond 6 Malan glase (21ste verjaarsdag van die Bond) en die boekies Escape of Jacques Malan en Het Familiewapen Malan aan hom oorhandig, wat hy geweldig waardeer het.
Die gaste is per kombi op 'n besigtingstoer van die plaas geneem. Ons het onder andere besoek afgelê by olyfboomkwekery, die olyfpers waar olyfolie vervaardig word en die herehuis en tuin waar ons vir Giulio en sy gade ontmoet het. Hierna is die gaste onthaal by die proelokaal, waar 'n uitstaande ete bedien is. Hierna is ons vergas deur Sabina Mossolow (Sopraan) en José Dias (Klavier) op 'n program met die naam Doci Musicali (Musikale Lekkergoed). Die bekendste gaste wat daar was, was oa Mnr F W de Klerk wat 'n heildronk ingestel het op die Bertrands, asook Christo Wiese, Mof Terreblanche, Renier Schoeman met hul gades, Karin Berman (Barnard) en Mev Cloete dogter van die vorige eienaar Mev Shirley Bairnsfather Cloete wat grootliks bygedra het tot die restourasie van Morgenster. Die Italiaanse gemeenskap was ook goed verteenwoordig.
Kontreinuus
Oom Japie Malan van Silwermyn Aftree-oord, Kaapstad se e-pos ten opsigte van die Desember uitgawe van die Vonk lui: "Dankie vir die besonderhede van die Malan-Vieringe in Oktober 2010. Toe ek dit lees het ek sommer gevoel ek was daar, maar natuurlike was ek nie teenwoordig nie. Ek sluit my bydrae in met die beste wense vir 'n goeie jaar vir die Vonk en sy mense."
Oom Japie en sy twee seuns het verlede jaar die Argus Fietswedren voltooi op ouderdom van 90 jaar. Vanjaar ws hy goed op pad om die afstand vir hom in 'n rekord tyd te voltooi, toe hy nie sy draai op Chapmans Piek kon maak nie. Hy het natuurlik te vinnig gery en toe val hy. Hy het sy hand en ribbes beseer. Toe ek laas met hom gepraat het, het hy mooi herstel. Sterkte Oom Japie ons hou duim vas vir volgende jaar.
Rina Lotter van die Franschhoek wat die spyseniering tydens die 21ste verjaardagviering van die familiebond hanteer skryf: "Dankie vir my pragtige blomme! Dit was 'n heerlike verrassing. Ek wil 'n guns vra. Ek ken 'n tannie, sy is Veronique Malan van die Paarl van die plaas Libanon. Ek wil graag van die Malan-glase vir haar gee." Die Bond het 6 glase geskenk.
Beatrix Malan stuur groete uit Robertson. Sy en haar twee broers Ed en Chris Malan het ook die 21ste verjaarsdagvieringe bygewoon. Sy kan nie uitgepraat raak oor die besoek aan die Malan-plase nie, veral hul verbintenis met Twist Niet die gebou op die plaas Champagne. Sy skryf dat sy nou weer hard besig is met haar familie-navorsing. Sterkte! Hou ons op hoogte asseblief.
D A J (Dawie) Malan van Pretoria het 'n pragtige Geslacht-Register van sy oupa die mede-stigter van Bethlehem ge-epos. Hy skryf dat hy een naweek sy niggie Skat wat op Sterkfontein (oorspronklike Malan-plaas) in die distrik Bethlehem besoek het, om na fotos van sy Oupa en sy derde vrou te soek. Hierdie geslagsregister was tussen twee stukke riffelkarton op die boom van 'n kamferhoutkis versteek. Dit is die geslagsregister van David Eduard Malan gebore 21/11/1867 en Maria Susanna van Rensburg gebore 27/02/1867. Dawie skryf: "Vir my was dit 'n groot stuk Artifakte van ons geslag." Die volledige storie sal in die Deus Arx Mea verskyn. Dankie vir jou ledegeld.
Naskrif: Ja, kamferhoutkiste en solders bewaar soms baie interessante artifakte en geheime. So het ek (Dennis Malan) die geslagsregister van Hendrik Davel gebore op 1/11/1757 en Willem Karel van der Merwe gebore 23/09/1785 in my ouma se kamferhoutkis ontdek. My ouma se tweede man was 'n Van der Merwe.
Avril Malan van Pretoria sê baie dankie aan die voorsitter vir sy bydraes met betrekking tot die Malan-Familiebond. Hy doen navraag mbt die verskyning van die Deus Arx Mea asook die Malan Vonk. Ek vertrou dat die probleem opgelos is. Voorsitter.
Wynand Malan van Rensburg stuur die volgende e-pos: "Ek weet nie hoe ek kontak verloor het nie, maar sal graag weer lid wil word en my verpligtinge behoorlik nakom. Kan ek asseblief die nodige riglyne/aansoekvorms en inligting kry? Ek sal ook graag my kinders aanmoedig om aan te sluit en my kleinkinders mettertyd betrokke wil kry. Is daar nog enige van die publikasies te koop/ waar doen ek hieroor navraag. Ek teken solank die Pretoriadatums aan vir die byeenkoms 5 en 6 Augustus. Groete.
Nadat die nodige inligting verskaf is het Wynand sy ledegeld, asook dié van sy kinders Judy Malan (van Reenen), Dawid en Gawie Malan betaal, 'n skenking gemaak, asook 'n aantal publikasies bestel. Baie dankie vir die ledegeld. Jul familie is 'n voorbeeld vir die ander lede en spreek boekdele.
Danie Malan van Honeydew het laat weet dat hy nog 400 eksemplare (6 kartonne) van Die Malan-gedenkboek, gedateer 6 Oktober 1951 in sy besit het, waarvan 30 blou en een bruin getekende eksemplare is. Dr Hercules Malan het hom onlangs besoek en die Gedenkboeke by Danie oorgeneem. Indien iemand belang stel om van die Gedenkboeke te koop, kan dit direk van hom bestel word te xxxxxxxx. [ Persoonlike inligting word liefs nie op die webwerf vertoon nie. Webmeester. ]
Danie het ook onderneem om die Malan's in sy gebied te verteenwoordig en het ook op Facebook 'n Malan Familie/Family groep begin. Hy sê: "Ek wil daar op die groep se bladsy ook besonderhede gee vir mense wat by die Malan Familiebond wil aansluit." Baie dankie Danie.
Danie (D G1) Malan van Stellenbosch een van die outeurs van Die Malans van SA het 'n webwerf vir die Malan Familiebond geskep. Hy nooi almal uit om deel daarvan te word. Soos julle seker opgemerk het, het die Malan Familiebond die elektroniese media aangegryp om ons kommunikasie met ons lede en familie oor die hele land en wêreldwyd uit te brei. Ons vertrou dat dit vrugte sal afwerp. Sonder genoeg lede en 'n bron van inkomste (ledegeld en donasies) kan ons nie voort bestaan nie. Dankie ook aan jou Danie.
Alet Malan van Lutzheim, Upington (Amptelike Genealoog en voorheen verbonde aan die Hugenote Vereninging en Museum) skryf: "Dit is goed om te hoor dat die Malan-Familiebond weer aan die gang is. Hier gaan dit goed. Ek bly elke dag besig. Ek het reeds ver gevorder met ons familie se dokumente wat ek tik om in boekies uit te druk. Ek het al 10 Titels, almal op verskillende stadiums van voltooiing. Ek was lanklaas in die Boland, maar wil graag een of ander tyd weer daarheen gaan. Ek hoop dit gaan nog goed met julle. Groete en beste wense".
Intussen het Dr Hercules Malan daar besoek afgelê en met heelwat inligting terug gekeer huis-toe. Sy het ook 'n 10 bladsy geskiedenis van Fanie en Lu Malan en familie aangestuur vir plasing in die Deus Arx Mea. Baie dankie Alet.
Wat doen die lede van die Dagbestuur behalwe om voltyds aan diens te wees?
Dr Hercules Malan van Polekwane (Onder-Voorsitter) het ver gevorder met die biografieë van ook die 70 Malans wat hul op een of ander manier onderskei het in Suid-Afrika. Sy mikpunt is om dit gereed te hê vir ons feesvieringe later vanjaar. Hy het ook verskeie Malans besoek om inligting te versamel. Hy is ook die familie-navorser.
Danie Malan van Boksburg (Amptelike Biograaf) is al oor die halfpad merk om die Familieregister op te dateer. Stuur asseblief alle inligting rakende geboortes, dope, troues en sterfgevalle aan. Met al die inligting wat ons besig om te versamel kan die volgende uitgawe van Die Malans van SA moontlik 3 volumes beloop. Maak seker dat al jou inligting te same met dié van jul kinders en kleinkinders ons so spoedig moontlik bereik.
Dennis Malan van die Strand (Voorsitter) Die voorsitter is verantwoordelik vir skakeling met die lede dmv Die Malan Vonk, telefoonoproepe en e-posse, as waarnemede redakteur vir die Deus Arx Mea, die reël van alle Saamtrekke, druk van publikasies en hantering van die finansies van die Malan Familiebond. Hierdie is 'n reuse taak, soos die vorige voorsitter en tans beskermheer J C Malan kan getuig. Nou kan u verstaan dat ons vra of daar nie lede is wat op een of ander manier wil help nie.
Sterfgevalle van Bondslede
Ds Stefanus Jeremia du Toit in die omgang bekend as Ds Fonie die eggenoot van Jacomi oorspronklik van Wellington is op 07/01/2011 te Port Elizabeth oorlede in die rype ouderdom van 93 jaar. Hy was predikant van die NG Kerk van 1944 tot 1988, waarvan 25 jaar in die NG Kerk van Natal. Jacomi (née Malan) sy gade en drie broers te wete Danie, Johan en Henri Malan van Wellington en sy twee susters Tersia en Petronella en skoonsuster Beth met gesinslede betreur sy heengaan. Die Malan Familiebond het ook sy innige meegevoel betuig. Albei was aktiewe Bondslede en het alle saamtrekke goed ondersteun.
Jos Malan voorheen van Stellenbosch is op 25 April te Somerset-Wes oorlede in die ouderdom van 88 jaar. Hy en sy gade Joan wat nou in die aftree-oord Helderberg Lodge, Somerset-Wes woon was getroue lede en ondersteuners van alle Malan aktiwiteite en saamtrekke. Hy is gebore op 4 Maart 1923 en sy wens was dat die Troosdiens gehou word in die Kweekskool Kapel, te Stellenbosch. Sy kinders het sy wens ge-eerbiedig en die troosdiens het wel daar plaasgevind op 6 April 2011. Die Malan-Familiebond het ook sy innige meegevoel betoon. Ons is baie dank verskuldig aan F S Franc (Francois) hul seun van Weltevreden Park wat op 'n skrywe van die Malan Familiebond tussen sy Pa se dokumente afgekom het en ons toe laat weet het van sy afsterwe en troosdiens.
Daar sal meer breedvoerig in die Deus Arx Mea oor albei gevalle gerapporteer word.
Malan Publikasies
Hierdie is ook 'n bron van inkomste, aangesien die Hugenote Museum ook van ons publikasies verkoop, behalwe dit wat ons self verkoop. Ons het so pas die "Escape of Jacques Malan" (E) van die drukkers ontvang. Die volgende publikasies is nou beskikbaar teen die nuwe pryse en kan by die Voorsitter bestel word. Sien besonderhede onder Ledegeld.
Internasionale Malan Reünie 2000 in (A/E) teen R100.
Malan Memorial Book (E) teen R120.
Het Familiewapen (Nederlands) teen R50.
Malan Video (A) teen R110.
Escape of Jacques Malan (E) teen R100.
Dr D F Malan (Pamflet - A) teen R15.
Bogenoemde pryse sluit nie posgeld in nie.
Ledegeld
Die bestuur word nie vergoed vir tyd gespandeer om die Malan-Familiebond te bestuur en uit te bou nie. Ongelukkig is daar maar altyd baie uitgawes. Ons doen dus 'n vriendelike beroep op u om u ledegeld vir 2011 wat steeds net R125 bedra, onverwyld in te betaal in die rekening van die Malan-Familiebond te ABSA nommer xxxxxxxx. Bewys van betalings kan gestuur word aan Dennis Malan, by xxxxxxxx of xxxxxx (telefoon/faks) of selfoon xxxxxxx of gepos word na xxx. Die Malan Vonk is gratis vir lede. Wanneer dit gepos word, kos dit R30 per jaar.
Beste Malan Familiegroete
Die Bestuur
Opgestel deur Dennis Malan
1. Korreksie aangebring aan die oorspronlike Vonk soos ontvang aangesien my voorletters verkeerdelik as J D aangegee was. Webmeester.
