MALAN VONK  -  Desember 2010

Kersfeesboodskap – Geseënde Kersfees! 

Wat sou iemand met dié woorde bedoel?  Het dit iets te doen met Kettingwinkels, Hotelle, vakansie-oorde  ens? Watter betekenis sou ek en jy aan die woorde Geseënde Kersfees heg?
 
Ons lees in Lukas 2 dat die skaapwagters ’n boodskap gekry het nl “Vandag is daar vir julle die Verlosser gebore. Julle sal ’n kindjie sien wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”  Hulle gaan toe kyk en kry dit presies so.
 
Die kindjie is die Verlosser. Hulle het dit geglo en aan almal vertel. In hul harte was daar vreugde en blydskap. Hulle het terug gegaan en God geloof en geprys.
 
Mag julle ook weer hierdie jaar die seuntjie in die krip as jul Verlosser herken en daar sal vreugde en blydskap in jul harte wees. As dit gebeur dan het ons ’n Geseënde Kersfees gehad.
 
Opgestel deur Ds Hercules Malan (Emeritus), Strand. 

Malan Familiebond herdenk sy 21ste verjaardag

Die Kaapse Malan saamtrek wat op 1 en 2 Oktober 2010 gereël was, het baie goed verloop. Op Vrydag 1 Oktober het die besoek aan die Malan-plase afgeskop met ’n besoek aan Salmonsvlei wat terug dateer na 1694. Ons is gul ontvang deur Danie en Mildie Malan en hul kinders. Danie het ons kortliks ingelig oor die geskiedenis van die plaas en ook die ou famliebybel wat terug dateer na 1729, gewys. Voorin verskyn die stamboom van die Malans van Salmonsvlei.  
 
Hierna is ons na die plaas Versailles die plaas van wyle Tienie Malan en waar Elmien Malan sy weduwee ons ontvang het en o.a. die huis en hul familiebybel gewys het wat terug dateer na 1682. Tienie was ook op sy dae Burgermeester van Wellington. Annareen de Reuck, hul dogter, het  ons daarna by haar huis op regte Malan de Versailles Sauvignon Blanc en ander Versailles wyne en verversings getrakteer. Die passasierstreine stop nou nog by die stasie op die plaas, soos ooreengekom toe die spoorlyn tot by Wellington gebou is.
 
Na ’n lekker ete by “The Perfect Place” te Wellington is ons na Twist Niet ,’n Nasionale Gedenkwaardigheid en tans inbesit van Joan Malan.  Die gebou was die woonhuis op die plaas Champagne. Die grond is in 1699 aan die Franse Hugenoot Herculé Verdeaux geskenk. (Herculé se dogter Maria was getroud met Daniel Malan, oudste seun van die Malan stamvader. Beide die Bond se ondervoorsitter, Hercules Morkel Malan, en die Voortrekker Malans met die name Hercules Philippus Malan (ook ds Hercules Malan wat ons Kersboodskap geskryf het)se name kom van Herculé af). Die huis is in 1811 gebou, waarskynlik deur Gabriel Hermanus le Roux. Champagne het oa. ook aan Edie Malan ons toerleier se oupa van 1940 tot 1946 behoort. Wellington is op hierdie plaas aangelê.
 
Hierna is ons na Malanot aangrensend aan Twist Niet. Dit het aan Big Ben Malan, oupagrootjie van Magnus en Avril Malan, behoort. Hy was ook o.a. burgermeester van Wellington. In sy tyd het Wellington elektriese ligte bekom.
 
Op pad na Leliënfontein, oorspronklike plaas van J J Malan en nou in besit van Jannie Bosman, ry ons verby De Groenefontein wat tans aan Deon Joubert behoort en Groenfontein (J Joubert). Jannie Bosman en sy seun het ons gul ontvang en die kelders gewys, wat opgevolg is met ’n skyfievertoning en wynproe.
 
Die dag is afgesluit met tee en verversings uit die boonste rakke by Johan Jonker en Estelle Malan van die plaas Cordiersrust. Ons is groot dank verskuldig Edie Malan van Lentelus wat die besoek aan die plase gereël het, nadat hy hul ’n paar maal besoek het en die geskiedenis mondelings oorgedra het. Namens die bestuur is opregte dank aan almal wat ons so gul ontvang het en inligting oor hul plase met ons gedeel het.
 
Tydens die verwelkoming en opening van die verrigtinge by die Hugenote Monument om die 21 ste verjaardag van die Malan Familiebond op 2 Oktober te vier, is daar hulde gebring aan Hannes Malan, wat vir verantwoordelik was vir media-skakeling en argiewe, hy was ook die jongste seun van wyle Dr D F Malan, in lewe Eerste Minister van Suid-Afrika. Hannes was jarelank verbonde aan Die Burger as joernalis. Hy is in ’n motorongeluk oorlede toe hy verdere navorsing oor die Malan-stasie gaan doen het. Hannes is ter ruste gelê te Stellenbosch begraafplaas op dieselfde tyd as wat die verrigtinge by die Hugenote  Monument  plaasgevind het. Ons het ook die afsterwe van ander Malan Bondslede geëer.
 
Ons was bevoorreg om vier uitstaande sprekers te hê. J C Malan tans beskermheer en voorheen Voorsitter van die Malan Familiebond en redakteur van Deus Arx Mea het die verrigtinge geopen met die onderwerp “ Die Malan Familiebond 21 jaar.”  Daniel Malan Jacobs het met ’n baie interessante onderwerp nl “Genealogie as instrument om geskiedenis lewendig te maak met verwysing na o.a. sy Malan voorouers” vir ons getoon dat hy in der waarheid meer Malan as Jacobs is.
 
Nadat ons foto’s by die Hugenote Monument geneem het, het ons vir lekker verversings verdaag na die Hoërskool Franschhoek. Hier kon ons ons verkyk aan die uitstalling van die versameling koerantknipsels wat Danie Malan die amptelike biograaf van die Malan Familiebond, tans van Boksburg, oor die jare oor die Malans versamel het. Danté Malan (ukelele) en André la Cock (klavier) het ons vermaak met besondere klanke. Wyn en boeke was ook te koop aangebied. Hierna het ons weggeval aan die smaaklike driegang ete deur Ina Lotter, met lekker wyne geskenk deur die Malans van Simonsvlei wat die saamtrekke elke keer op hierdie besondere manier ondersteun.
 
 Ds Bossie Minnaar trustee van die Hugenote Vereniging het ’n besondere insiggewende voordrag gelewer oor “Die Hugenote Vereniging, doelwitte, aksieplanne vir nou en die toekoms.”
 Met teetyd is ons almal verras met die sny van die verjaardagkoek deur J C (Jack) en Dennis Malan om die 21 jaar van die bestaan van die Malan Familiebond sedert 1989 te gedenk.
 
Die verrigtinge is afgesluit  deur Dr Hercules Malan, onder-voorsitter met die onderwerp “Verspreiding van Malans in Suid-Afrika.”

Bestuur 

Met die afsluiting is die volgende bestuur verkies: J C (Jack) Malan, Beskermheer;
D S (Dennis ) Malan, Voorsitter; Dr H M (Hercules) Malan, Onder-Voorsitter;
E C (Edie) Malan, Voorsitter Wes-Kaap, J D (Danie) Malan, Amptelike Biograaf en  
D G (Danie) Malan, Genealogiese Navorser.
 
Dit sal waardeer word indien u uself beskikbaar sal stel as medewerker vir familienavorsing, reël van saamtrekke en skryf van bydraes vir die Malan Vonk en Deus Arx Mea.
Ons het u hulp nodig om ons familie se kultuurerfenis te bewaar en uit te bou! Meld asseblief aan vir diens!

Malan saamtrekke 

Daar is besluit om op 5 en 6 Augustus 2011 ’n saamtrek te reël te Pretoria met ’n moontlike besoek aan Koos Malan se graf te Doornpoort, Koster, Noordwes-Provinsie, asook ’n besoek aan Paul Kruger se plaas buite Rustenburg. Indien u enige idees het, stuur dit asseblief aan na Dennis Malan.           
 
In 2011 beplan ons om ook weer ’n saamtrek te hou te Franschhoek om die eerste byeenkoms wat 60 jaar gelede onder beskerming van Dr D F Malan plaasgevind het, te herdenk. Daar word ook oorweeg om Allesverloren, familieplaas van Dr Malan, ook in te sluit by ons program. Die datums vir die Kaapse saamtrek is 7 en 8 Oktober 2011, DV. Indien u enige ander idees het, tree inverbinding met Dennis Malan.

Ledegeld

Om die Malan Familiebond te bedryf kos ongelukkig geld. Die ledegeld vir 2011 bly R125 en kan by die volgende rekening inbetaal word: Malan Familiebond, ABSA rek. nr. xxxxxxxxxx. Bewys van betaling kan gestuur word aan Dennis Malan of xxxxxxxxxx (telefoon/faks), of selfoon xxxxxxxxxx of gepos word na Die Palms 1, Kusweg 44a, Strand, 7140. U kan ook ’n vrywillige bydrae maak of ’n bemaking in u testament. In ruil sal u jaarliks die jaarblad Deus Arx Mea ontvang en kwartaaliks die Malan Vonk.
 
As u nie by die Malan Familiebond wil aansluit nie, maar wel die nuusbrief Malan Vonk wil ontvang sal dit steeds gratis aan u gestuur word. As u egter die Malan Vonk per pos wil ontvang  kos dit egter R30 per jaar.
 
Ons is tans besig met die samestelling van die Deus Arx Mea wat vroeg in  2011 versend sal word. Indien u nog artikels of briewe geplaas wil hê, moet u nou gou spring. Stuur dit asseblief aan Dennis Malan.

Die inligting aangedui met xxxxxxxxx kan aangevra word by die webmeester.

Kersfees en Nuwejaar

Aan die einde van nog ’n suksesvolle jaar, wens die Bestuur van die Malan Familiebond al sy lede en hul families ’n baie Geseënde Kersfees en Nuwejaar toe. Deus Arx Mea! God is my Vesting!
 
Malan Familiegroete
 
Die Bestuur
 
 Opgestel deur Dennis Malan