13. Die Nageslag van David Malan (1751-1824)
David was die eerste kind van David Malan by sy tweede vrou, Elisabeth Marais. Hy is op 11 September 1751 gebore.
Teen 1770 boer David op 'n plaas in die gebergte aan die noordekant van die Leeurivier. Hy trou die vogende jaar op 27 Oktober met sy niggie, Elisabeth Malan, dogter van Daniel Malan en Emerentia Steyn.
Volgens die opgaafrol van 1773 vir die distrik Drakenstein het David in daardie jaar reeds 4 slawe en 2 slavinne in sy diens gehad. Hy het toe 20 perde, 10 beeste en 200 skape besit. Hy het ook 10 mud koring gesaai en 60 mud geoes. Vir sy verdediging het hy 1 snaphaan, 1 pistool en 1 degen besit.
Dit kom voor of David tydens 1773, op 22 jarige ouderdom, na 'n plaas in die Swartland verhuis het. In dieselfde jaar is hy verkies as diaken vir die gemeente Swartland.
David het teen 1780 weer 'n keer getrek, die keer na Vergelegen in Hottentots-Holand, destyds in die Stellenbosch distrik. Op 31 Julie 1787 word hy bevorder tot adjudant van die vierde Kompanie van die Burgerdragonders van Stellenbosch. Minder as twee maande later word hy weer bevorder, dié keer tot kornet.
Gedurende 1788 tref 'n skandaal die Malan-familie. David raak naamlik betrokke in 'n buite-egtelike verhouding met Zara, 'n slavin van Jurgen Radijn. In die nag tussen 11 en 12 Augustus 1788 vertrek David stilletjies na die woning van Jan de Vos, onderhouer van die Hottentots-Hollandkloof, waar Zara op daardie tydstip gewoon het. David en Zara vertrek saam na die binneland en beland uiteindelik by die Visrivier. Zara laat haar baba op Jan de Vos se plaas agter.
David word in sy afwesigheid deur die Politieke Raad verhoor en skuldig bevind aan kwaadwillige verlating, egbreuk en diefstal van 'n slavin. Hy word gevonnis tot verlies van sy rang as kornet, verbanning uit die kolonie en lyfstraf indien hy in die hande van die gereg sou val. David se vrou, Elisabeth, gesteun deur haar skoonpa en swaers (Stephanus en Jacobus Malan) vra dat David toegelaat word om hom in die hof te verdedig en vra dat volle beheer oor sy boedel aan haar toegestaan word.
Die eerste versoek word toegestaan, maar die tweede nie en Vergelegen word uiteindelik aan Roelof Laubscher verkoop.
Dit kom voor of David weer teen die begin van 1791 na sy vrou teruggekeer het, want op 25 September 1791 skenk Elisabeth geboorte aan 'n tweeling, Stephanus Willem en Hercules Philippus. Die twee seuns is in die gemeente Swartland gedoop.
David kon nie lank in die Swartland gewoon het nie, aangesien sy naam in 1796 in Swellendam opduik. Hy was een van die vurige voorstanders van die Republiek van Swellendam wat hulle onafhanklik van die VOC regering verklaar het. David weier nou om die eed van getrouheid aan die nuwe Britse regering aan die Kaap af te lê.
'n Paar jaar later verhuis David weer, die keer na Buffelshoek te Zwagershoek op die Oosgrens, naby die huidige Cradock. Daar neem hy in 1815 aan die Slagtersnek-rebellie deel. Hy word in Januarie 1816 gevonnis tot drie jaar dwangarbeid op Robbeneiland en lewenslange verbanning uit die Oostelike Provinsie. Dié vonnis is egter, waarskynlik weens David se hoë ouderdom, nooit voltrek nie en hy het tot sy dood in 1824 op Zwagershoek bly woon.
Elisabeth is eers in 1842, op 88-jarige ouderdom, op Buffelshoek oorlede.
Kinders van DAVID MALAN en ELISABETH MALAN
1 David Stephanus, gedoop 20 Junie 1773.
2 Daniel Jacobus, gedoop 1 Maart 1775.
3 Elisabeth Christina, gedoop 22 November 1777.
4 Emerentia Anna, gedoop 9 Julie 1780.
5 Elisabeth, gedoop 1 September 1782.
6 David Eduard, gedoop 10 Julie 1785.
7 Jacobus, gedoop 7 Oktober 1787.
8 Stephanus Willem, gedoop 25 September 1791.
9 Hercules Philippus, gedoop 25 September 1791.
10 Anna Maria, gedoop 24 Februarie 1794.
DAVID STEPHANUS is jonk dood.
DANIEL JACOBUS is op 21 April 1799 te Swartland getroud met Elisabeth Catharina Engela, dogter van Hendrik Cornelis Engela en Maria Elisabeth Malan. Ná Elisabeth se dood is Daniel op 28 Oktober 1832 op Swellendam hertroud met Cecilia Maria le Roux, dogter van Abraham Hercules le Roux en Aletta Maria van der Merwe.
Dit kom voor of Daniel teen 1816 op Zwagershoek gewoon het. Hy het blykbaar ná sy eerste huwelik in die Swartland en ná 1806 in die Swellendam distrik gewoon. Daniel is in 1855 oorlede en Cecilia in 1864.
Kinders van DANIEL JACOBUS MALAN en ELISABETH CATHARINA ENGELA:
1 David Eduard, gedoop 15 Februarie 1801.
2 Maria Elisabeth Anna, gebore 16 Januarie 1806.
3 Elisabeth Jacoba, gebore 8 Desember 1807.
