Inhoud


Voorwoord

Dit is vir my as voorsitter van die Malan-familiebond van Suid-Afrika 'n besondere groot voorreg om 'n voorword te skrywe oor hierdie unieke werk, 'n lofwaardige poging deur drie Malans om die eerste uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika – Geskiedenis en Geslagsregister van 1988 aan te vul en uit te brei tot 'n manjifieke twee-bundel uitgawe.

Ek praat natuurlik hier van Hercules Morkel Malan (b3c3d3e2f2g12h2i1) van Bloemfontein wat inderdaad Hercules-arbeid gelewer het om saam met sy mede-outeurs, Daniel Gerhardus Malan (b6c3d9e5f2g4h1i5j1) van Stellenbosch, amptelike navorser van die Familiebond, en Jacob Daniël Malan (b6c5d6e1f5g10h3) van Pretoria, die Bond se amptelike biograaf, dié werk in 'n tydperk van tien jaar te voltooi. Navorsing is in staats- en kerkargiewe gedoen, vraelyste is aan Malans dwarsoor Suid-Afrika en Namibië gestuur en honderde telefoonoproepe is gemaak. Bronne in Italië en Frankryk, waar die Malans hulle oorsprong het, is ook nagegaan. Dit is voorwaar 'n pragtige prestasie wat veel in terme van onvermoeide arbeid gevra het.

Die tweede uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika bevat meer as 9800 name van gebore Malans. Die geskiedenis van die Malans word tot so ver terug as die twaalfde eeu beskryf en die eerste vyf geslagte Suid-Afrikaanse Malans word breddvoerig in nege hoofstukke gedek. Volledige genealogies besonderhede asook beroepe en plaasname is so ver moontlik by die register gevoeg. Vier verskillende indekse maak dit maklik om enige persoon vinnig op te soek. Die tweede uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika is ongetwyfeld die volledigste en besgeïndekseerde familieregister wat nog in Suid-Afrika gepubliseer is.

Dit is nou presies 310 jaar gelede dat ons stamvader, Jacques Malan (ca 1665-1742) voet aan wal gesit het aan die destydse Kaap die Goeie Hoop. Dit is hier waar hy saam met sy latere eggenote, Isabeau le Long (1668-1736), die grondslag van hierdie besondereb familie gelê het.

Maar dit is die Hercules-man van Bloemfontein wat deur ywer en harde werk die eerste uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika daargestel het. Man alleen het hy die stofvergaarde inligting, wat 37 jaar in Jacques Malan (b6c9d9e4f6g3h1) van Pretoria se besit was, begin sif en self verder navorsing gedoen. Dié inligting is met hulp van 'n rekenaar versmelt tot 'n eenheid van mer as 5000 name. Met die publikasie van die eerste uitgawe het dit dan ook groot byval gevind by akademici en Malans in die algemeen. In sy boekbespreking het wyle dr Cor Pama, die bekende genealoog, in Familia 1/89 ook groot erkenning aan Hercules gegee vir sy bydrae tot die wetenskap van genealogie in Suid-Afrika.

 

Deur hierdie suksesverhaal is 'n droom ook bewaarheid – dié van dr D F Malan, destydse Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika en beskermheer van die Malan-saamtrekke, wat op 6 Oktober 1951 deur die hele Suid-Afrika plaasgevind het, en waartydens Die Malan-gedenkboek, onder redaksie van Jacques Malan, vrygestel is. Dit was by die lewering van sy feesred date dr D F Malan sy droom bekend gemaak het, naamlik dat die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Malans deur 'n Malan te boek gestel moes word.

 

Hercules Malan het hom reeds voor die publikasie van die eerste uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika beywer vir 'n kulturele organisaie ten einde die Malan-familie bymekaar te bring. In September 1987 het hy 'n loodsvergadering in Krugersdorp belê om hierdie doelstelling te bespreek. Onder die groep was onder andere professor Fanie Malan van Pretoria en skrywer van hierdie voorwoord. 'n Jaar later het Hercules die gedagte verder bekend gestel tydens die Hugenote-Fees 300 en wel by gelentheid van 'n spesiale Malan-saamtrek in Stellenbosch. Hy moes egter nog 'n jaar wag voordat hierdie begeert van hom op 15 Desember 1989 met die stigting van die Malan-familiebond bewaarheid sou word. As huidige ondervoorsitter lewer hy belangrike insette tot die uitbou van seker die aktiefste familiebond in Suid-Afrika.

Ongetwyfeld kan die Malans van Suid-Afrika terygkyk op 'n roemryje verlede, 'n verlede waarop iedere lid van hierdie familie en dussiende ander wat nie meer die naam dra nie, maar deur bloed daaraan verbonde bly, trots kan wees. Dit is dan ook my wens dat hierdie tweede uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika die familiebetrokkenheid sal versterk en sorg vir die voortbestaan van die Malans as 'n hardwerkende, vooruitstrewende, eerbare en gelowige familiegroep.

Hercules en die twee Danies verdien hoë lof vir hulle onbaatsugtige dienslewering, nie slegs aan die Malanfamilie nie, maar ook iedereen wat 'n beheoefte het om uit die werk waarde te put. Mag die navorsing en te boekstelling van die werk vir hulle 'n blywende en ryke beloning wees.

Deus Arx Mea.

J C Malan

(b6c4d9e4f2g12h8)

Voorsitter van die Malan-familiebond

Posbus 10215 Linton Grange Port Elizabeth 6015. Tel (041) 3782010


Inhoud