MALAN VONK – JULIE 2011


Amptelike Nuusbrief van die Malan Familiebond

Hierdie is die sesde uitgawe sedert dit vir die eerste keer in Januarie 2010 verskyn het. Hierdie is ’n poging om met korter tussenposes met die bond se lede en voornemende lede kontak te maak en te behou. Ons kan dit egter net volhoubaar uitgee as ons van die Malans in Suid-Afrika hoor. Met die vorige uitgawe was daar heelwat kontreinuus, hierdie keer bykans niks. Ons vertrou dat julle spoedig uit jul winterslapie sal ontdooi en wakker word. Hierdie is al die Malans se blad, nie net dié van die bestuur nie. So, laat asseblief van jul hoor.  

Deus Arx Mea

Ons wag nog steeds op bydraes van ons lede, maar is vas van plan om dit voor die einde van September vanjaar gereed te hê. Bestuur het egter ’n groot verrassing wat wag op sy lede wat die byeenkoms van 5 en 6 Augustus in Pretoria bywoon.

Malan Album
 

Etlike jare gelede het Dr Fanie Malan bydraes gevra vir biografieë van Malans en het oor die jare ’n groot aantal ontvang. As gevolg van die verswakking van sy oë en afsterwe, het Dr Hercules Malan onlangs die dokumente bekom en is besig om dit by te werk. Dit sal uitgegee word as die Malan Album. Dit behoort ’n baie interessante versameling te wees oor die doen en late van gewone Malans in Suid-Afrika. Ons is groot dank verskuldig aan Dr Hercules vir hierdie groot taak wat hy tot volvoering gebring het.


Malan Saamtrekke – 2011

Pretoria – 5 en 6 Augustus 2011

U word vriendelik uitgenooi na die 60-jarige Herdenking van die 1951 Malan-Saamtrek en die Malan-gedenkboek deur Jacques Malan by die NGK Lynnwoodrif en ‘n besoek aan die gedenksteen en graf van die boereheld Jacobus Marthinus (Koos) Malan en sy nasate te Doornpoort, Koster, Noordwes-Provinsie.


Dag 1: Vrydag 5 Augustus se program


08:30 Vergader by Vulstasie te Atterbury-afrit aan die linkerkant van die  snelweg indien jy van suid na noord reis.
08:45 Vertrek na Boekenhoutfontein, President Kruger se plaas.
09:00 Stop te Builders Warehouse in Zambesirylaan aan die linkerkant net voor die eerste robot om lede op te tel. Draai links op die N4 Rustenburg tolpad van uit die N1 noord.
10:30 Besoek museum en opstal te Boekenhoutfontein noord van Rustenburg. Nuttig verversings vir eie rekening.
11:30 Vertrek na Doornpoort, Koster.
12:30 Middagete te Doornpoort, Koster.
13:30 Besoek die boereheld Jacobus Marthinus (Koos) Malan se gedenksteen en graf, asook gedenkplaat van sy nasate wat in die 2de Vryheidsoorlog gesterf het. Toeligting deur Bun Malan van Rustenburg.
15:30 Vertrek huiswaarts.
17:30 Aankoms in Pretoria


Dag 2: Saterdag 6 Augustus Malan Familiebond Saamtrek te”Lifestyle Café”, NGK Lynnwoodrif  (Lanciastraat 269, Lynnwoodrif)

10:00 Registrasie en teken van die besoekersboek – Verversings word bedien.
10:30 Verwelkoming – D (Dennis) S Malan, Strand (Voorsitter Malan Familiebond)
10:40 Opening, Skriflesing en Gebed deur Dr Chris Malan, Lynnwoodrif NG Gemeente.
10:50 “Die Malan Familiebond 21 jaar oud.” J C Malan (Beskermheer van die Malan Familiebond)
11:25 Gasspreker: “Jacques Malan skrywer van ‘Die Malan-Gedenkboek 6 Oktober 1951’ se bydrae tot die kultuur-historiese erfenis van die Malans van Suid-Afrika” deur André Malan, Cradock.
12:00 Malan video – 50-jarge Malan-Saamtrek 2001 te Franschhoek.
12:30 Uitstalling van versameling koerantknipsels deur Danie Malan, Boksburg. (Biograaf van die Malan Familiebond). Gesellige verkeer.
13:00 Middagete    Malan wyne, vrugtesap, hoofmaal, Griekese slaai en nagereg.
14:00 Klavieruitvoering: Lize-Tharien Malan, Hoofdogter, Laerskool Die Poort.
14:15 Die bekendstelling van  “Die Malan Album” deur Dr Hercules Malan, Polokwane. (Onder-Voorsitter van die Malan Familiebond)
14:30 “Die Morgenster Storie 1711 tot 2011” deur Dennis Malan, Strand.
15:00  Bedankings en afsluiting. Verversings word bedien en u kan dan verder lekker saam kuier. van  “Die Malan Album” sal te koop wees (R150 per eksemplaar).

Dag een is vir u eie koste. Ons probeer om saam te ry om kostes te beperk. Laat asseblief vir Hercules Malan voor Woensdag 27 Julie 2011 weet as u wil saamgaan. Verskaf asseblief ook ’n telefoonnommer waar u gebel kan word om finale reëlings te kan tref. As u graag die aand op Doornpoort wil slaap kan dit ook gereël word. Laat Hercules net asseblief vooraf weet.

Dag twee. Aangesien daar heelwat onkoste is om so’n geleentheid te reël kos dag twee etes, verversings, sprekers en administratiewe koste alles ingesluit vir volwassenes net R135-00 per kop en vir laerskool leerders R85-00 per kop.

Dit sal waardeer word indien u betalings voor Woensdag 27 Julie 2011 sal maak aan die Malan Familiebond ABSA rekeningnommer xxxxxxx, Strand deur direkte inbetalings of per internet. Aangesien Dennis Malan reeds op 23 Julie Pretoria-toe vertrek moet u asseblief u betaling bevestig deur u betalingsbewys na Dr Hercules Malan se e-posadres te stuur by xxxxxx of per faks na 015 295 5935 (kantoor) of te pos na Dr H M Malan, xxxxxx. U naam, telefoonnommer en e-posadres moet die bewys vergesel. Indien u met Dennis Malan persoonlik wil praat skakel xxxxxxxxx. Dit is belangrik dat u hierdie prosedure volg, omdat ons ’n week voor die tyd ons getalle beskikbaar moet hê vir die spyseniers.  


Somerset-Wes – 7 en 8 Oktober 2011

Hierdie saamtrek het ’n interessante wendig geneem. Dag een 7 Oktober 2011 bring ons nog steeds besoeke aan Morgenster, gevolg deur Lourensford, Vergelegen, Knorhoek, Stonewall en Navarre.
Dag twee begin ons verrigtinge by Morgenster waar die Malan Familiebond ’n brons plaat ter nagedagtenis van Jacques Malan ons stamvader en sy nasate en die 300- jarige bestaan van Morgenster gaan onthul. Daarna verhuis ons na die NGK Hottentots Holland  vir ons saamtrek en middagete. U sal nader aan die tyd volledig ingelig word.
 

Kontreinuus

Hierdie keer is die nuus maar skaars.

Nikki Malan  van Somerset-Wes skryf en verwys na ’n gesprek wat ons gehad het oor ’n boekie getiteld “Pieter Malan van Namakwaland”. Sy vermoed dat dit moontlik haar man Pieter Malan se oupagrootjie was.  Hul was ’n naweek by sy pa op Oudsthoorn en het toe omtrent ingedelf en ’n klomp fotos ook gekry. Ons het onder andere uitgevind dat sy oupagrootjie  van Springbok was en nie Namibië soos hy gedink het nie en blykbaar ook langs die kerk op Springbok begrawe is. Sy naam was: Pieter Jacob De Villiers Malan.

Dennis Malan het ’n paar van hierdie boekies wat teen R40.00 te koop is. Hy skryf terug aan haar: “Ek het die boekie getiteld Pieter Malan van Namakwaland deur Dr. A D Lückhoff, deurgelees en op bl 57 staan ’Evangelis van Namakwaland, Pieter Jacob de V Malan,  gebore 20/09/1850, oorlede 18/11/1930.’ Daar is ook ’n foto van sy grafsteen in die skadu van die kerk op Springbok. Dennis noem dat hy ook ’n foto van Oom Pieter(Jnr) seun van P de V Malan, geneem by die eerste Malan-Saamtrek soos gereël deur die Malan Familiebond, te Mountain Breeze, Stellenbosch op 27 April 1992 het.” Ons is bly dat ons kon help. Daar sal ’n artikel oor  Pieter Malan in die Deus Arx Mea verskyn.

Dr. Hercules en Roeline Malan, van Polekwane het onlangs die doop van hul tweede kleinkind bygewoon. Dit is dié.van Sebastian Daniel Lombard, seun van Elmarie. Hulle eerste kleinkind, Hercules Morkel Malan, seun van Paul, is op 1 Augustus verlede jaar gebore.

Dr. Chris Malan voorheen van Doornpoort, Pretoria het die beroep na Lynnwoodrif NGK aanvaar. Hy word op 24 Julie 20011 aldaar bevestig.

Daniël Christiaan Malan sy seun het die Suid Afrikaanse ope Presidentsspan vir lewensreders op riviere en binnelandse damme na die Statebondspele gehaal, hoewel hy nog maar net 17 jaar oud is. Die senior span staan bekend as die Proteas.Voorwaar ’n puik prestasie. Die Statebondspele vind vanaf 28 September tot  2 Oktober 2011 te Kingspark Stadion, Durban plaas.

Daniel Francois Malan se e-pos lui: “ Ek is die kleinseun van Dr. D F Malan (voormalige eerste minister). Sommer net vir konteks waar ek in die stamboom inpas. Ek wil graag meer weet oor lidmaatskap van die bond  en oor die Malan studiebeurse vir die moontlikheid om daarna te kan bydra as ek eendag oud en ryk is. Groete, Francois. Sy e-posadres is xxxxxx en webwerf is http://graphics.tudelft.nl/People/francoismalan”  
 
Beste Francois vir lidmaatskap van die Malan Familiebond sien paragraaf oor lidmaatskap.
Die volgende studiebeurse bestaan nog nl. Avril Frieda Malan (Universiteit Pretoria), F S en R E Malan (Universiteit Stellenbosch) en die F S en W C Malan (Universiteit Stellenbosch).
 

Sterfgevalle

Mev Judy Malan (65). Die Burger van 10 Mei 2011 rapporteer onder die hofie “ Wynand Malan se vrou verloor stryd teen kanker.”
Mev Judy Malan (65), vrou van Mnr. Wynand Malan, een van die stigters van die Demokratiese Paty, is die naweek aan kanker oorlede.
Malan, wat in 1977 as ’n Nasionale Party-LP vir Randburg  verkies is, het gesê borskanker is in 2005 by haar gediagnoseer. Sy het oor die jare chemoterapie ontvang en is nie deur groot lyding nie. Die egpaar was 44 jaar getroud en het al die jare in Randburg gewoon. Hul het ’n dogter Judy en twee seuns, Dawid en Gawie. Die kleinkinders is Charl, Jeanne en Lila.  Die woorde wat Wynand gebruik het om haar te beskryf is “bright’, “beautiful” en “sprightly.”
Mev Susanne Malan (78)  vrou van van André Malan van die Strand is ook aan kanker oorlede op 29 Junie 2011. Die gedenkdiens is in die NGK Strand-Noord gehou. Hul het vier seuns waarvan drie in Gauteng woonagtig is en die een in die Kaap.
Daar mag ook ander Malans wees wat oorlede is waarvan ons nie weet nie. Aan almal ons innige simpatie en meedelye. Malan Familiebond.
 

4 de Genealogie- en Familie-Erfenisfees, NG Gemeente Lynnwoodrif op Saterdag 3 September 2011


Dagboek asseblief hierdie datum aangesien die Malan-Familiebond  weer ’n stalletjie deur  Danie Malan van Boksburg sal beman. Hy bring sy rekenaar saam, asook die Malan familieregister. Dit sal nou jou kans wees om meer omtrent jou voorgeslagte uit te vind. Danie is die Malan-Familiebond se offisiële biograaf en is juis  besig om alle gegewens te boekstaaf en/of te korrigeer met die oog op ’n nuwe publikasie van die “Malans van SA” onder leiding van Dr Hercules Malan.
Die stalletjies word beman vanaf 08:30 tot 14:00. Hierdie is ’n lekker kuier naweek en is oop vir die publiek. Daar is ’n teetuin, eetstalletjies, musiek en pret vir die kinders. Dit vind plaas by die NG Gemeente Lynnwoodrif, Lanciastraat 269, Lynnwoodrif, 0040. Skakel Isabel Groesbeek, xxxxxxxx vm of faks xxxxxxx of e-pos xxxxxxx
 

Ledegeld


Dit was al sulke tyd! Ledegeld vir 2011 is steeds R125-00 per jaar en is reeds betaalbaar. Betaal asseblief in die rekening van die Malan-Familiebond te ABSA nommer xxxxxxx. Indien u ’n donasie wil maak, is u ook baie welkom. Bewys van betaling kan gestuur word aan Dennis Malan, by xxxxxxxxxxxx of xxxxxxxx (telefoon/faks) ef selfoon xxxxxxxx of gepos word na xxxxxxx. Die Malan Vonk is gratis as dit elektronies gestuur word. Wanneer dit gepos word, is die posgeld R30.00 per jaar. Die jaarblad Deus Arx Mea is gratis vir betaalde lede van die Malan-Familiebond. ’n Aankondiging oor hierdie prestige blad verskyn binnekort.

Beste Malan-Familiegroete
Die Bestuur
(Opgestel deur Dennis Malan)