16. Die Malan-familiewapen
Opgestel deur Jacques Malan.
| Vanaf die vroegste nedersetting aan die Kaap was daar sommige families, hoofsaaklik van Nederlandse afkoms, met 'n geskiedenis van wapenvoering. Die Malans tel nie onder hierdie families nie. Dit is 'n basiese beginsel van wapenvoering dat wapens in die direkte manlike lyn van geslag tot geslag vererf word. Slegs diegene wat bewys kan lewer dat hulle direkte afstammelinge van 'n persoon is wat 'n bepaalde wapen regmatiglik voer of gevoer het, het aanspraak op die betrokke wapen en nie enigeen wat toevallig dieselfde van dra nie.
In Suid-Afrika is wapens vanaf die veertigerjare van die twintigste eeu so gekommersialiseer dat dit algemeen geword het om 'n wapen aan 'n van en nie 'n persoon nie, te koppel. Enersyds om hierdie rede het die Malans van Suid-Afrika die wapen wat hier regs afgebeeld is vir hulleself toegeëien. Andersyds was dit sedert jare her aanvaar dat die Suid-Afrikaanse stamvader van die Malans uit Mérindol, geleë in Provence, Frankryk, kom. Die jongste navorsing dui daarop dat Jacques uit die nabygeleë St. Martin-de-la-Brasque afkomstig is. Daar kan egter met redelike sekerheid aangeneem word dat Jacques se familie verwant was aan die Malans van Mérindol. (kliek op die wapen vir 'n groter afbeelding. 'n Hoë resolusie foto (600 dpi) van die wapen kan hier afgelaai word.) |
![]() |
Die wapen wat hier afgebeeld is word is in 1780 (92 jaar ná Jacques se aankoms in Suid-Afrika) deur die Nobilaires van Frankryk toegeken aan Alexandré de Mérindol Malan van Genevé, Switserland, 'n nasaat van een van die vier Malans wat ná 1690 uit Mérindol gevlug het. Die Malan-seël waarop die datum 1250 staan was ongetwyfeld die basis van Alexandré se wapen. Die ontwerp is dieselfde inagnemende die feit dat een 'n seël en die ander 'n wapen is.
Die wapenskild is horisontaal in drie segmente verdeel. Bo is 'n tweetoringkasteel in silwer met swart spitse op 'n rooi agtergrond. Die middelvlak is koningsblou en daarop verskyn in goud die drie lelies (fleurs-de-lis) van die Bourbons van Frankryk. Op die onderste segment is drie groen bergspitse op 'n goue agtergrond.
Bokant die skild is die helm met die gesig na die aanskouer se linkerkant gedraai. Op die helm is 'n helmkroon en uit die kroon styg 'n perd halflyf uit.
Die kasteel is die oudste deel van die wapen en simboliseer die leuse: Deus arx mea (God is my vesting). Die drie berge simboliseer moontlik die oortog oor die Cottiese Alpe in 1504. Volgens Kits-Nieuwenkamp is die drieberg "een merkwaardig en interessante figuur; wat de oorsprong betreft van hoge ouderdom. Deze wordt nog al eens in wapens aangetroffen en geplaast in de voet van het schild. In de regel groen. In de wapensymboliek komt de drieberg voor als teken van grondbezit, tevens embleem van reinbeeld en aanhankelijkheid, dit laaste ten aanzien van de vaderlandse grond en kenmerk van interesse voor de landbouw." Die fleur-de-lis kom vry algemeen in Franse wapens voor. Dit kom sedert 1197 voor op die wapen van die Franse koningshuis (Bourbon) en is volgens familietradisie in 1250 deur Lodewyk IX aan die Malans toegeken. Volgens Kits-Nieuwenkamp is dit "het teken van wijze vrede en van reine edele gezindheid."
In teenstelling met wat altyd aanvaar is, wys die Staatsheraldikus daarop dat die kroon nie dié van 'n Franse baron is nie en dat nóg die helmkroon nóg die helm noodwendig iets met adellike status te doen het. Die perd is volgens Kits-Nieuwenkamp die simbool van "snelheid, kloekheid en uithoudingsvermogen".
Die Malans van Engeland en hul nasate in Australië sal op hierdie wapen kan aanspraak maak, omdat hulle hul stamboom vanaf Alexandré kan deurtrek. Dit is 'n voorwaarde van die heraldiek dat afkoms bewys moet word.
Daar kan ook gewys word dat in die Supplement to Rietstap's Armorial Général vol. VIII, daar 'n inskrywing "Malan Provence" voorkom wat dié wapen beskryf as "in groen, 'n goue dwarsbalk, 'n swart vlerk silwer gesmee" (vertaling). Dit is die inskrywing in die Armorial Général van 1696 vir Thomas Maland, lid van die bourgeoisie van die omgewing van Mérindol. Daar is dus geen ooreenkoms of verband tussen die twee wapens nie.
Dr J.A. de Boo, 'n Nederlandse heraldikus, skryf: "het recht op een wapen werd sinds het midden van de 14e eeuw erkend voor iedere vrije man, of hij nu tot de adelstand behoorde of niet".
In die Suid-Afrikaanse Raad vir heraldiek het as beleid aanvaar om nie onbewese wapens in omloop vir enigiemand te registreer nie. Ook mag 'n onbewese wapen nie as grondslag vir 'n nuwe ontwerp dien nie.
Die Malans van Suid-Afrika kan nie bewys dat hulle stamvader van Alexandré de Mérindol Malan afstam nie (tewens die teenoorgestelde is waar); hulle kan ook nie bewys dat hulle van Thomas Malan van Mérindol afstam nie en nog minder van die Malan-kruisvaarder, wat sekerlik een van die oudste Malan-wapenvoerders was. Hulle sal ook nie 'n wapen kan laat ontwerp en registreer vir 'n gestorwe stamvader nie.
Die wapen word egter al vir langer as 'n eeu algemeen deur Malans in Suid-Afrika gevoer en hulle sou met reg kon redeneer dat hulle net soveel aanspraak as Alexandré Malan op die seël van 1250 het.

