Stamvader, Jacques Malan, se oervoorouers

Die manlike genetiese afstamming van die Malan stamvader kan bepaal word deur die Y-chromosoom van sy manlike afstammelinge te ontleed. Sekere dele van die Y-chromosoom word bykans onveranderd van vader na seun oorgedra. Soms kom daar egter 'n fout met die kopiëring wat bekend staan as 'n mutasie. So 'n mutasie is meestal onskuldig en word natuurlik ook oorgedra na die nasate van die persoon waarby dit voorgekom het daar die fout ook gekopieer word. Die mutasies dien as merkers wat gebruik kan word om die genetiese verwantskap tussen mense te bepaal.

Die National Geographic is besig met 'n 5 jaar genetiese projek naamlik "The Genographic Project" met die doel om soveel as moontlik genetiese materiaal te versamel van inheemse mense ten einde die migrasie van mense oor die aarde te bepaal. Hulle verkoop ook 'n genetiese stelletjie waarmee 'n mens 'n DNS monster aan die binnekant van jou wang kan neem en dit dan kan instuur na hulle vir ontleding. Danie Malan van Stellenbosch het die stelletjie gekoop en sy monster laat ontleed en ook later fyner ontleding laat doen. As manlike afstammeling van die Malan stamvader verskaf die ontleding dus genetiese inligting oor die Malan stamvader, Jacques Malan.

Die resultate wys dat Danie in haplogroep R val en dat die laaste bepaalbare merker daarin R-Z48 is.

Die merkers van die oudste tot die jongste is: M42 -> M168 -> M89 -> M9 -> M45 -> M207 -> M173 -> M343 -> P25 -> P297 -> M269 -> L23 -> L150 -> L51 -> P310 -> P312 -> U152 -> Z48

Die toetse was negatief vir al die sover bekende merkers wat onder U152 val. Die toets vir S47 was positief en L100 negatief maar dis tans onbekend waarop dit dui.

Intussen is nog vier ander Malans in onderskeidelik die b3, b6c3, b6c4 en b6c5 takke getoets en hulle resultate stem behalwe vir 'n paar mutasies ooreen met die van Danie in die b6c3 tak. Dus kan ons nou met redelike sekerheid sê dat die stamvader, Jacques Malan, by R-Z48 in die Y-chromosoom boom val. 

Danie het ook die Geno. 2 toets laat doen en die uitslae is as volg:

Die merkers van die oudste tot die jongste is: P305 -> M42 -> M168 -> P143 -> M89 -> M578 -> P218 -> M526 -> M45 -> M207 -> P231 -> M343 -> M269 -> P310 -> P312 -> U152 -> Z48

Die kaart toon die migrasie roete wat die afstammelinge van die "Eurasiese Adam" M168 gevolg het.

Die man van wie omtrent alle lewende mans afstam is omtrent 140000 gelede in Afrika gebore en kan as die "Y-chromosoom Adam" beskou word. Alhoewel hy nie die enigste man daardie tyd was nie is hy die enigste wie se afstammelinge oorleef het. Dié proses waar alle mense van slegs een persoon afstam is soortgelyk aan die proses waar 'n mens bv. 'n eiland het waarop mense met 'n 100 verskillende vanne bly. Van die mense het net dogters en uiteindelik sterf 'n van uit en bly net 99 vanne oor. Uiteindelik sterf die meeste vanne uit en bly net omtrent een oor.

P305 het ongeveer 100000 jaar gelede in Afrika gelewe. Omtrent 99.9% van alle mans wat vandag lewe stam van hom af.

M42 het ongeveer 75000 jaar gelede in Afrika gelewe.

M168 het ongeveer 70000 jaar gelede waarskynlik in die skeurvallei van Afrika geleef. Sy nasate was van die eerstens wat sowat 65000 jaar gelede uit Afrika begin beweeg het om die res van die wêreld te populeer. Die uittog uit Afrika is moontlik deur klimaatsverandering te weeg gebring.

P143 is omtrent 60000 gelede in Suidwes-Asië gebore.

M89 is omtrent 55000 jaar gelede in Suidwes-Asië gebore. Die merker word gevind in 90 tot 95 persent van alle nie-Afrikane.

M578 is omtrent 50000  jaar gelede in Suid-Asië gebore.

M45 het ongeveer 35000 jaar gelede in sentraal Asië of Suid-Asië geleef.

M207 is ongeveer 30000 jaar gelede in sentraal Asië gebore. Sy nageslag het uiteindelik Europa gekoloniseer.

M231 is tussen 25000 en 30000 jaar gelede in sentraal Asië gebore en het 'n nomadiese leefstyl gevolg.

M343 is tussen 17000 en 22000 jaar gelede in Suid of Wes Asië gebore en het as jagter-versamelaar geleef. Hulle was deel van die verbeterings in jagtegnologie wat populasiegroei en uitbreiding moontlik gemaak het.

L278 het in Wes-Asië ontstaan. Die ouderdom van die merker moet nog bepaal word.

P310 het in Wes-Asië ontstaan. Sy nageslag het na Sentraal Asië, Europa en die Levant gebiede getrek. Dit kom in 45% van mans in Frankryk, 38% van Spanje en 8% van Italië voor.

P312 is tussen 5500 en 14000 jaar gelede in Wes-Asië gebore. Die merker kom in 16% van mans in Frankryk en 15 tot 17% in Spanje en Portugal voor.

U152 is tussen 5500 en 11000 jaar gelede is Wes-Asië gebore. Die tak het die hoogste voorkoms in België (11%), Liechtenstein (33%) en Switzerland (11%). Dit kom voor in 6 tot 7 persent van mans in Frankryk en 6 persent van mans in Duitsland.

 

Die kaart hierbo wys die verspreiding van die U152 merker soos bepaal uit die aantal mense wat tot dusver getoets is.

Die resultate van die genetiese ontleding pas netjies in by wat ons vanuit die genealogie van Jacques Malan weet en wys die roete wat sy voorouers vanuit Afrika na Europa gevolg het.

 

Bronne

International Society of Genetic Genealogy. Y-DNA Haplogroup Tree [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.isogg.org/tree/index.html [2011, Oktober 30].

U152.org. Beskikbaar: http://u152.org [2012, Oktober 24]. Die webwerf bestaan blykbaar nie meer nie.