Plase

Libanon, Klein-Drakenstein, Paarl

Libanon was oorspronklik deel van die grond aangrensend aan die plaas Lustigaan. Lustigaan is op 27 Augustus 1694 aan Jacques Pinard toegeken en was 58 morg 150 vk roede groot. Pinard se weduwee trou met Estienne Terblanche en so kom hy op 3 Desember 1713 in besit van die plaas. Op 7 Julie 1725 verkoop hy die plaas aan Louis le Riche en op 13 Maart 1764 word dit aan sy seun Pierre le Riche oorgedra. Na die dood van Pierre se weduwee kom die plaas op 19 Februarie 1802 in besit van hulle skoonseun Jacob de Leeuw.

Op 24 Januarie 1831 word 573 morg 284 vk roede grond aangrensend aan Lustigaan aan Jacob en Hendrik de Leeuw toegeken.

Na Jacob se dood verkry Charles Petrus Theron op 9 Oktober 1835 'n deel van Lustigaan vir sy skoonseun Jan Jacobus de Villiers. Die oorblywende deel van 278 morg 451 vk roede erfpag, later bekend as Lebanon, word op 9 Oktober 1835 oorgedra aan Jacob se skoondogter Anna Sibella Louw.

Op 13 Junie 1845 verkoop Anna die plaas aan Matthys Michiel Louw. Op 1 April 1864 verkoop Matthys 23 morg 294 vk roede grond aan Johannes Rudolph Zeederberg. Die restant van 255 morg 157 vk roede word op 12 Desember 1907 uit die boedel van Roelof Charles en Anna Susanna Malherbe oorgedra aan David Gerhardus Malherbe. Op 17 September 1907 koop Jacobus Francois Malan (1865 - 1946) die plaas vir £2650 vanaf David Gerhardus Malherbe. In 1915 bring hy die veranda aan op die hoofhuis. In 1928 sny Jacobus 'n deel van Libanon af vir sy dogter, Catharina Maria (Kitty), wat daarna as Cedar bekend gestaan het. Kitty se man sterf in 1938 en op 8 Desember 1939 verkoop Jacobus Cedar aan Jan Jacobus de Villiers. Hy sterf in 1946. Op 16 Januarie 1948 erf Jacobus se seun, Daniël Gerhardus (1897 - 1985), die plaas wat toe gewaardeer was vir £15000. Op 14 November 1963 koop Daniël se seun, Jacobus Francois (1931), die plaas vir R40000. Tans boer Jacobus se seun Jacques (1963) saam met hom op die plaas.

Die hoofhuis op die plaas dra die datum van 1884. Twee ouer huise bestaan op die plaas maar dis onseker wanneer hulle gebou is.

Bronne

1. Le Roux, J.G. en W.G. Ons Drakensteinse erfgrond.

2. Cape of Good Hope Government Gazette 4.1.1849.

3. Kasboek van Daniël Gerhardus Malan (1897 - 1985)  vir die periode 1953 tot 1956.