plase

Lourensford, Somerset-Wes

Lourensford is die konsolidasie van verskeie ou plase waaronder De Laaste Gift, Vrede-en-Hoop en Zeeman's Hoop. In 1709 toe Willem Adriaan van der Stel se plaas Vergelegen in vier verdeel is, het Jacobus van der Heyden die deel ten noord-weste van die Lourensrivier gekoop. Dit is op 16 Februarie 1711 aan hom oorgedra en het die naam Vellerbreiders' Molen gekry.

Op 21 Oktober 1711 het die goewerneur, van Assenburgh, 75 morg aangrensend aan Jacobus se plaas aan Jacobus se seun Albert van der Heyden, wat toe slegs veertien jaar oud was, toegeken. Die plaas het die naam De Laaste Gift gekry. Albert is waarskynlik jonk dood aangesien die plaas in 1713 in die besit van sy swaer Izak Scheepers kom. Ná die dood van Scheepers het sy weduwee met Andries Schutte getrou en so het hy in 1725 in besit van die plaas gekom. In 1752 koop Daniel Malan, die eienaar van Morgenster, De Laaste Gift van Andries Schutte. Ná Daniel se dood in 1770 is De Laaste Gift aan Martin Melck verkoop.

'n Deel van Vellerbereiders' Mollen, op die westelike bank van die Lourensrivier, het eerste die naam Lourensford gedra. Die stukkie grond het in 1818 in die hande van Jacobus Theunissen gekom. Dit is in 1863 deur sy seun, Nicolaas, aan James Dell verkoop wat dit Lovedale genoem het. Daarna het Edward Strangeman, 'n Ier wat na Suid-Afrika gekom het, die plaas gekoop. Sy vrou het die plaas weer Lourensford genoem, 'n kombinasie van die rivier en Waterford, die provinsie in Ierland vanwaar hulle gekom het. Edward het Welgelegen langsaan gekoop. Een van die latere eienaars, James Sivewright, koop later nog grond langsaan Lourensford insluitend Vergelegen.

Bronne

Heap, Peggy. The Story of Hottentots Holland, 1993. Goodwood: National Book Printers.

Malan, Hercules, D.G. en J.D. Die Malans van Suid-Afrika, Geskiedenis en Geslagsregister, 1998. CLF Drukkers, Bloemfontein.