Plase

Morgenster, Somerset-Wes

 

Fig. 1. Oorspronklike uitleg van die plaas. Kliek op die duimnael om die diagram te sien. Maak die venster toe om terug te keer na hierdie blad.

Nadat Willem Adriaan van der Stel uiteindelik in 1709 na Nederland teruggeroep is, is sy plaas Vergelegen, naby die huidige Somerset-Wes, in vier verdeel en opgeveil. Jacques Malan (1665-1742), die stamvader, het die deel wat later bekend sou staan as Morgenster op 28 Mei 1711 gekoop. Morgenster was 171 morg 75 vierkante roede groot.  Jacques en sy gesin het toe op Morgenster gaan woon. Morgenster is reeds op 9 Mei 1725 aan sy oudste seun, Daniel, oorgedra. Jacques en Isabeau het egter tot hul dood op Morgenster bly woon. Die naam Morgenster is die eerste keer in 1739 opgeteken, dus kon Jacques of Daniel die naam gegee het. In 1736 het die opstal op Morgenster bestaan uit 'n voorhuis, 'n kombuis, 'n solder en 'n wynkelder. Daar was, soos gebruiklik in daardie tyd, geen spesifieke slaapkamers nie. Die teenwoordigheid van 'n solder dui daarop dat daar 'n plafon moes gewees het, wat uitsonderlik vir 'n huis in die vroeë agttiende eeu was. Ná Daniel se dood het sy jongste seun, Jacobus, Morgenster in 1770 geërf. Ná Jacobus se vroeë dood in 1778 het sy weduwee, Catharina, in 1779 die monogram DM op die gewel van 'n nuwe buitegebou laat aanbring. Catharina is op 5 Februarie 1780 hertroud met Rudolph Johannes Laubscher. Hulle het op Morgenster bly woon maar die plaas Vergelegen, wat Jacobus vantevore gekoop het, is toe verkoop aan Jacobus se neef David Malan. Na Laubscher se dood in 1795 het sy weduwee, Catharina, die plaas in 1796 aan Albert Johannes van der Poel verkoop.

Die herehuis op Morgenster is waarskynlik deur Jacobus Malan gebou maar die voorgewel met die datum 1786 daarop is waarskynlik deur Rudolph Laubscher aangebring. Die gewel van die stal dra die datum van 1779 en die letters MM daarop wat moontlik dui op die huwelik tussen Jacobus Malan en Catharina Morkel.

In 1779 verkoop van der Poel die plaas aan Marthinus Laurentius Neethling. Op 1 Mei 1807 verkoop Neethling deel 12 op die diagram van 70 morg 203 vierkante roede groot vir 46000 gulden aan Philip Hendrik Morkel. Tydens heropmeting van die plaas is bevind dat die werklike loop van die Lourensrivier geensinds ooreenstem met dié op die kaart nie. Daar die loop van die rivier nie verander het nie is daar bevind dat die landmeter JW Wernich oorspronklik 'n fout moes gemaak het en 6 morg 277½ vierkante roede is afgetrek en in goewerments grond verander. Neethling verkoop die oorblywende gedeelte, No. 2 op die diagram, in 1813 aan Hendrik Hendriksz. Die deel het later die plaas Land-en-Zeezight geword.

Op 22 Maart 1825 vergroot Morkel die plaas deurdat 187 morg 2 vierkante roede aangrensend tot die suidooste aan hom toegeken word.

Bronne

Diagramme: 3/1711, 14/1807, 65/1825.

Heap, Peggy. The Story of Hottentots Holland, 1993. National Book Printers, Goodwood.

Malan, Hercules, D.G. en J.D. Die Malans van Suid-Afrika, Geskiedenis en Geslagsregister, 1998. CLF Drukkers, Bloemfontein.

Titelaktes: 1711-2-107, 1807-2-136.

Web

www.morgenster.co.za