Plase

Navarre, Somerset-Wes

In 1796 word die plaas Nooitgedacht, aan die westelike hang van Helderberg, net buite die huidige Somerset-Wes, aan Daniel Josias Malan (1760-1803) toegeken. Nooitgedacht is een van die laaste plase wat in die distrik van Stellenbosch uitgereik is. Die opstal wat Daniel op Nooitgedacht gebou het, bestaan vandag nog as 'n buitegebou op die plaas Navarre.

Die grootte van Daniel se plaas, wat in erfpag aan hom gegee is, was slegs vier morg 480 vierkante roede. Die grond word in die transportakte beskryf as "Erf te Moddergat aan't oude erf van Burger Jonas van Bergen".

Johannes Jacobus, die oudste seun van Daniel, het die huidige woonhuis op Nooitgedacht (tans Navarre) vir hom en sy bruid gebou. Op die gewel is die inskripsie JJM 1815 aangebring. Dié Kaaps-Hollandse opstal word as een van die mooistes in die Kaap beskou.

Twee jaar voor Johannes se huwelik is Nooitgedacht met 13 morg vergroot. Alhoewel Johannes eers in 1830 oordrag van die plaas van sy oorlede moeder se boedel verkry het, moes hy toe reeds jare lank die boedery behartig het.