plase

Vergelegen, Somerset-Wes

In 1700 praat Willem Adriaan van der Stel die besoekende kommisaris, Wouter Valckenier, om om 400 morg grond in die Hottentots-Holland aan hom toe te ken. Die plaas noem hy Vergelegen. Dit was egter onwettig aangesien die amptenare nie toegelaat is om te boer nie. Op 15 Mei 1703 ken van der Stel 117 morg 545 vierkante roede grond, wat later Onverwacht en Rome sou word, langs Vergelegen toe aan Jan Hartog waarna hy dit vir 'n nominale som van Hartog koop. Op die manier het van der Stel die plaas uitgebrei tot dit uiteindelik 613 morg beslaan het. Onwettige toekenning van grond is ook vir van der Stel se broer, Frans, gedoen en uiteindelik het die twee broers bykans die hele Hottentots-Holland besit.

Die kaart hierbo toon die uitleg van Vergelegen in 1711 aan. Die plaas was in totaal 613 morg 220 vierkante roede groot en is in vier dele verdeel. No. 1 (heel links) was 101 morg 585 vierkante roede groot en is deur Catherina Harmans, die weduwee van Gerrit Cloete, gekoop wat sy Cloetenburg genoem het. Die deel van die plaas word vandag grotendeels deur die dorp van Somerset-Wes beslaan. No. 2 (links middel) wat later as Morgenster bekend sou staan was 171 morg 75 vierkante roede groot en is deur Jacques Malan gekoop. No.4 (heel regs) wat later as Lourensford bekend sou staan was 170 morg 80 vierkante roede groot en is deur Jacobus van der Heyden gekoop.

No. 3 die oorblywende deel van Vergelegen was 170 morg 80 vierkante roede groot en is deur Barend Gildenhuysen gekoop. Hy sterf egter na Junie 1721 en sy weduwee trou in Maart 1722 met Michiel Otto. So kom Otto in besit van die plaas. Hy was baie wreed teenoor sy slawe en is 'n paar keer deur die regering daaroor gestraf. Uiteindelik verlaat hy die plaas en sy vrou vir 'n drankwinkel in Kaapstad waar hy homself aan drank oorgee.  In 1751 koop Jurgen Radyn die plaas. Hy was getroud met Otto se dogter Anna Dorothea. Dit wil voorkom of Arnoldus Maasdorp die plaas in 1757 gekoop het. Daarna het onderskeidelik Nicolaas Vlok in 1763 en Johannes de Waal in 1775 in besit van Vergelegen gekom. Jacobus Malan (1751-1778), toe eienaar van Morgenster, koop Vergelegen net voor sy dood in 1778. Op 5 Februarie 1780 trou Jacobus se weduwee, Catharina Morkel, met Rudolph Johannes Laubscher en so kom hy in besit van Vergelegen en Morgenster. In dieselfde jaar word Vergelegen aan Jacobus se neef David Malan (1751-1824) verkoop. In 1789 koop Rudolph Laubscher weer die plaas terug. Laubscher sterf in 1795 en sy weduwee verkoop die plaas aan Wouter de Vos in 1796. In 1798 koop Marthinus Wilhelmus Theunissen die plaas. Hy was getroud met Sara Catharina Malan, dogter van Jacobus Malan, wat die plaas 20 jaar vantevore besit het.

Bronne

Heap, Peggy. The Story of Hottentots Holland, 1993. Goodwood: National Book Printers.

Malan, Hercules, D.G. en J.D. Die Malans van Suid-Afrika, Geskiedenis en Geslagsregister, 1998. CLF Drukkers, Bloemfontein.

Plaas Stellenbosch 732. Diagram Nr. 2/1700.

Plaas Stellenbosch 811. Diagram Nr. 4/1703.

Web

www.vergelegen.co.za