MALAN VONK – September 2011

Amptelike nuusbrief van die Malan Familiebond

Hierdie is die sewende uitgawe van die Malan Vonk sedert dit vir die eerste keer in Januarie 2010 verskyn het. Dit is ’n baie nuttige en goedkoop manier om elektronies met ons lede en voornemende lede te kommunikeer. Diegene wat nog nie geleer het om met die kinders se moderne elektroniese speelgoed oor die weg te kom nie, sal deur middel van die slakkepos bereik word.

Die Malan Album

Die Malan Album of die Biografiese Woordeboek van Suid-Afrikaanse Malans onder die redakteurskap van Dr Hercules Morkel Malan is toe op  6 Augustus 2011 tydens die Malan-Saamtrek te Lynnwoodrif NG Gemeente, Pretoria bekend gestel. Die gedagte het reeds in 1993 by Hercules opgekom om iets soortgelyks aan die Biografiese Woordeboek van Suid-Afrika vir die Malans op te stel.  Die vernaamste ander medewerkers is Prof. S.I. (Fanie) Malan, Jacques Malan, Hannes Malan en J C Malan. Hierdie boek bevat 130 biografieë van Suid-Afrikaanse Malans en daar word geen aanspraak op volledigheid gemaak nie. Inteendeel word die hoop uitgespreek dat hierdie werk sal dien as inspirasie vir baie Malans om biografiese inligting van hulself of familielede beskikbaar te stel vir opname in die volgende uitgawe van hierdie publikasie. Veral sal daar aandag gegee word aan gebore Malanvrouens sowel as aangetroude Malanvrouens. Die ideaal is ook om foto’s in ’n latere uitgawe op te neem. Alle Malans wat van ons stamvader Jacques afstam word dus uitgenooi om foto’s vir die Malan Fototeek  en biografiese inligting vir die Malanbron aan te stuur na Hercules.

Die Malan-Familiebond  wil langs hierdie weg hul dank en waardering uitspreek teenoor Hercules vir hierdie puik en uitsonderlike werk. Die voorsitter van die Hugenote Vereniging aan wie ’n gratis eksemplaar oorhandig is, kan nie uitgepraat raak oor die behalte van die werk nie. Ek haal aan:” Dit is inderdaad ’n omvattende en keurig versorgde boek en stel ’n voorbeeld aan ander families om dieselfde te doen.”  Prof. Christo Viljoen gaan voort en sê:” Ek het die vrymoedigheid geneem om dit te resenseer vir Beeld en Die Burger se boekeblad en sal maar sien of hulle dit gaan gebruik.”

Soos daar belowe is, sal alle lede wat verlede jaar hul ledegeld betaal het ’n gratis eksemplaar kry wat deur die Malan-Familiebond geborg word, aangesien hul nie ’n Deus Arx Mea ontvang het nie. Eksemplare van Die Malan Album kan direk bestel word van Dr H M Malan, Posbus 11766, BENDORPARK, 0699 of skakel 015 296 1669 (H), 082 898 8987 (S) of vonkpos: Stuur e-pos aan Hercules Malan. Die Malan Album verkoop tans teen R150.00 plus R30  posgeld. Betaal asseblief die bedrag in die volgende rekening in: Dr H M Malan RMB Private Bank rek. nr  62295990199 Takkode 222-026 Tak Pretoria. Stuur u bestelling saam met die bewys van betaling na bogenoemde e-posadres of faks dit na 015-2955935.

Malan-Saamtrekke – 2011

Pretoria  - 5 en 6 Augustus 2011

Die besoek aan die die plaas Doornpoort buite Koster was vir die groepie Malans ’n besondere ondervinding. Ons is gul ontvang deur Bun en Jenny Malan wat  ons op ’n gesigtingstoer van die plaas geneem het en ons met lekker etes bederf het. ’n Paar manne het selfs oorgebly en lekker met ander Malans van die omgewing gekuier. Bun is besig om die plaas wat onder verdeel was, weer te konsolideer en ou geboue te testoureer selfs die ou leiklipkwarie word gerehabiliteer. Die besoek aan die Malan-begraafplaas waar Malan-nasate begrawe lê, was ’n besondere ondervinding. Van die oudste grafte is totaal van leiklip gemaak. Ons kon ook ’n wyle vertoef by die graf en gedenksteen van die boereheld J M (Koos) Malan. Hy is 110 jaar gelede op ouderdom van 70 jaar ná ’n skermutseling met die Britse troepe op die plaas Doornpoort op 11 Junie 1901 deur die Kakies vermoor. Hy was ’n gesiene boer in die Rustenburgdistrik en het van 1881 tot 11 Oktober 1899 die distrik as volksraadslid in die Eerste Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Replubliek (Transvaal) verteenwoordig. Ons het ook die kliprandjies en die klipstapel waar hy gesneuwel het, besoek asook die ou klei opstal, tabakstoor en skooltjie.

Saterdag se Malan-Saamtrek te Lynnwoodrif NG Gemeente is deur Dr Chris Malan  leraar van die gemeente met skriflesing en gebed ge-open. Weens ongesteldheid kon J C Malan nie sy boodskap “Die Malan-Familiebond 21 jaar oud” voordra nie. Dit is deur Dennis Malan gelees. Hercules Malan het gepraat oor “Jacques Malan die skrywer van Die Malan-Gedenkboek en sy bydrae tot die kultuur-historiese erfenis  van die Malans van SA.” Daar is geluister en gekyk na die video gemaak oor die 50-jarige byeenkoms te Franschhoek. Nadat die Malan Album  bekendgestel is, het Dennis Malan die verrigtinge afgesluit met. “ Die Morgenster Storie, 1711 tot 2011”.

Somerset-Wes Saamtrek 7 en 8 Oktober 2011

U word vriendelik uitgenooi na ’n besoek aan verskillende bekende Malan-plase in die Somerset-Wes omgewing te wete Morgenster, Vergelegen, Lourensford en  Knorhoek  op Vrydag 7 Oktober en die onhulling van ’n Malan-gedenkplaat ter viering van Morgenster se 300 ste verjaardag op Saterdag 8 Oktober 2011. Die verrigtinge word voorgesit by die NG Gemeente Hottetots-Holland. Die gassprekers by dié geleentheid sal Proff. Viljoen en Coertzen wees. Dit sal opgevolg word met ’n lekker middagete. Hierna sal ’n besoek gebring word aan Pastorieplein en Malan/Morkel-grafte, asook Stonewall en Navarre.

Program

Dag 1:  7 Oktober 2011

08:45 Vergader by proelokaal te Morgenster, Somerset-Wes.

09:00 Vertrek op ’n toer na olyfkwekery, olyfpers, herehuis en tuin en terug na proelokaal en kelder vir ’n gratis olyf- en wynproe.

10:45 Vertrek na Lourensford.

11:00 Gratis koffieproe.

11:30 Vertrek op ’n begeleide staptoer na die herehuis vir ’n foto voor die huis.

12:00 Besoek die kaasmakery.

12:30 Middagete by River Garden Restaurant. Betaal vir eie drank.

13:15 Besoek die proelokaal en kuns- en juwele-uitstalling.

13:45 Vertrek na Vergelegen.

14:00 Besoek herehuis, kamferbome en biblioteek. Begeleide toer.

14:45 Nuttig tee en koffie by Phillips Restaurant.

15:15 Vertrek na Knorhoek, Sir Lowry Pas.

16:30 Vertrek huiswaarts.

Dag 2: 8 Oktober 2011

09:15 Vergader in die parkeerarea  by Morgenster aan die begin van die laan wat lei na die herehuis en beweeg dan saam verby die slaweklok na die linkerkant van die huis.

09:30 Opening en verwelkoming deur D S (Dennis) Malan, Strand (Voorsitter van die Malan-Familiebond).

09:35 Skriflesing en gebed deur emiritus Ds Hercules Malan, Strand.

09:40 Kort boodskap by geleentheid van die onthulling van ’n gedenkplaat ter ere van Jacques Malan die stamvader van die Malans van SA en sy daaropvolgende erfgename en die 300-jarige herdenking van die plaas Morgenster (1711 – 2011) deur J C (Jack) Malan (PE), Beskermheer  van die Malan-Familiebond van SA.

09:55 Ander boodskappe en antwoord deur Mnr Giullio Bertrand.

10:00 Verlaat die perseel en stap terug na parkeerarea.

10:15 Vertrek na die NG Kerk Hottentots-Holland, Somerset-Wes.

10:30 Registrasie, teken van besoekersboek en bediening van verversings.

11:00 Gasspreker:  “Die Hugenote in die Herinnering van Suid-Afrika” Prof. Pieter Coertzen, Fakulteit Teologie, US.

11:35 Gasspreker: “Die storie van jou van, met die fokus op die Hugenote” Prof. Christo Viljoen, Voorsittter van die Hugenote Vereniging van SA, Stellenbosch.

12:10 Malan video: 50-jarige Malan-Saamtrek 2001 te Franschhoek.

12:40 Uitstalling: Versameling van koerantknipsels oor die wel en weë van die Malans van SA deur Danie Malan, Boksburg ( Biograaf van die Malan-Familiebond). Gesellige verkeer.

13:00 Middagete: Malanwyne/vrugtesap, voorgereg, hoofgereg en nagereg.

14:00 Gasspreker: “Jacques Malan (skrywer van “Die Malan Gedenkboek, 6 Oktober 1951) se bydrae tot die kultuur-historiese erfenis van die Malans van SA” deur André Malan, Historikus, Cradock.

14:30 Bekendstelling van “Die Malan Album” Dr Hercules Malan, Polokwane.

14:45 Bedankings  en afsluiting.

15:00 Verversings word bedien.

15:15 Vertrek na Stonewall en Navarre.

Aangesien daar heelwat uitgawes is om so’n geleentheid aan te bied kos dit R135.00 per volwassene per dag en vir laerskool leerders R85.00 per leerder per dag. Indien u albei dae sou bywoon kos dit R250.00 per volwassene en R150.00 per leerder.

Dit sal waardeer word indien u betalings voor Vrydag 30 September 2011 sal maak aan die Malan-Familiebond, ABSA rekeningnommer 916 844 8977, Strand deur direkte inbetaling of per internet.  Bevestig asseblief u betaling deur u betalingsbewys na Dennis Malan se vonkposadres te stuur by stuur epos aan Dennis Malan, of per faks na 086 725 3059 of pos na D S Malan, Die Palms 1, Kusweg 44, Strand, 7140. Indien u met my persoonlik wil praat, skakel my by 083 375 3251 of 021 853 5319. Dui asseblief aan watter dag of dae u die saamtrek bywoon. Dit is belangrik dat u so spoedig antwoord en bogenoemde prosedure volg , omdat ons ’n week voor dir tyd getalle beskikbaar moet hê vir die spyseniers.

U sal nie weer so’n geleentheid kry om saam die 300-jarige bestaan van Morgenster te vier nie. Maak dus van hierdie unieke geleentheid gebruik om die nalatenskap van ons stamvader Jacques en sy nasate te besoek. Kom vier saam fees en bou so aan die Malan-tradisie waarop ons almal baie trots kan wees.

Kontreinuus

Malan-Familiebond kry ‘n webblad.  Danie Malan van Stellenbosch het hierdie blad geskep wat op hierdie oomblik deur homself onderhou word. Hy het vriendelike gevra dat ons dit aan die Malans van SA bekend sal stel. Indien u dit wil gebruik skakel  http://malanbond.co.za. Hiermee dra die Malan-Familiebond sy innige dank oor aan Danie.

Verjaardae en ander gelukwense. Ons wens die volgende lede en oud lede geluk met hul verjaardae en wens hul Gods rykste seën toe vir die jaar wat voorlê nl

Oom Japie Malan, oud-orrelis en koormeester van Die Groote Kerk, Kaapstad en kranige  fietryer van die Argus fietsren wat op 15 Julie 92 jaar oud was.  Hy woon tans in Silwermyn Aftree-oord naby Kaapstad. When I phoned to congratulate him on his birthday, his daughter-in-law Margeret answered  the phone. Together with her husband Ted from New Zealand they are paying him a visit to assist him with his birthday. According to her, he has recovered well from his big fall in last years’ Argus and is doing well.

Maxie Malan  (84) gade van wyle Hendrik Malan oud-lid van die Wes-Kaap se bestuur van die Bond en Sylva Malan (81) gade van wyle Droe Malan ((92) almal van die Strand op19 Julie.

Danie Malan van Boksburg, amptelike biograaf van die Malan-Familiebond op 26 Julie.

Dr Jan Malan van die Strand, komiteelid Wes-Kaap bestuur van die Bond op 1 Augustus.

Prof. Koos Malan van  UP Pretoria,  2 Augustus.

Dennis Malan van die Strand, Voorsitter van die Malan-Familiebond op 7 Augustus.

Dr Hercules Malan van Polokwane, Onder–Voorsitter van die Malan-Familiebond op 13 Augustus.

Dit sal hoog op prys gestel word indien lede hul geboorte datums kan laat kry, sodat ons hul kan gelukwens.

Op 14 Julie het Dr Chris en Mientjie Malan leraarspaar van Lynnwoodrif NG Gemeente, Pretoria, die 21 ste herdenking vasn hul troudag gevier. Voorspoed, insig en wysheid vir die volgend 21 jaar jul toegewens. Mag jul baie seën in jul bediening ontvang.

Sterfgevalle

Danie Malan van Pietermaritzburg en broer van J C Malan, beskermheer van die Malan-Familiebond is op 22 Julie oorlede. Ons innige meegevoel gaan uit na die famile.

Genl. Magnus Malan, voorheen Hoof van die SA Weermag en Minister van Verdediging in die vorige bedeling is op 18 Julie in die rype ouderdom van 81 jaar in die Kaap oorlede. ’n Gedenkdiens is vanuit die NG Kerk, Welgemoed op 23 Julie deur Ds Johann Symington gehou. Die skriflesing was uit 1 Johannes 4. Genl Gert Opperman het die huldeblyk gebring. Op 27 Julie is ’n tweede gedenkdiens vanuit die NG Kerk Lynwood te Pretoria gehou. Die prediker was Genl-maj (Ds) Johan de Wit en die skriflesing was uit Johannes 15 vs 9 – 17. Die huldeblyk is gelewer deur Genl. Constand Viljoen. Die orrelis was Eon Malan. As voorsitter van die Malan-Familiebond het ek die voorreg gehad om laasgenoemde gedenkdiens by te woon. Die Malan-Familiebond wil hiermee hul innige meegevoel  oordra aan Margot en familie. Ons deel in jul groot verlies. Aan Avril sy broer baie dankie dat jy ons gedurig op hoogte gehou het van die verwikkelinge, asook vir die huldeblyke en begrafnisbriewe wat jy vir ons laat kry het. Ons kan tereg sê: “ Stil, broer, daar gaan ’n man verby; ’n seder het geval; ons salueer sy nagedagtenis; ons sal hom nie vergeet nie!”

Dr. Lucas Cornelius Malan (66) beter bekend as Charles is op 27 Augustus 2011 oorlede aan nierversaking en longontsteking in die Eugène Marias-hospitaal. Hy is in 1946 te Nylstroom gebore. Hy was benewens skrywer, akademikus en navorsingskonsultant ook die koödineerder van Vrye Woord, ’n losse groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici, uitgewers en ander belanghebbendes.  Die hoofdoel van Vrye Woord is om spraakvryheid teen toenemende bedreiging te beskerm. Die Kerkbode sê: “Die NG Kerk se strewe na groter diversiteit het ’n groot terugslag gekry met die dood van dr. Charles Malan, webmeester en dryfkrag agter die kerk se diversiteitsforum.”  Die opskrif lei:” Kerk verloor onverskrokke strydros”. Aan Marietjie Coetzee-Malan sy gade en drie kinders ons innige meegevoel.

Gelukwense aan Simonsig en Morgenster

Op 24 Augustus is die eerste Suid-Afrikaanse afdeling van die Commanderie de Bordeaux op luisteryke wyse op die La Motte-wynlandgoed in die Franschhoekvallei ingewy. Die nuwe Bordeaux-kommandeurs het in tradisionele Franse fluweeljasse hul lidmaatskapmedaljes ontvang.

Die Commanderie de Bordeaux is ’n internasionale vereniging van ongeveer 5 000 wynliefhebbers met afdelings in 26 lande. Onder die 30 kommandeurs wat elk met ’n glas wyn en medalje tot Commanderie ingelyf is, is Johan Malan van Simonsig, Stellenbosch, wat die Méthode Cap Classique-vonkelwyntradisie voortsit, volgens die Naweek  Burger 10.9.2011. Baie geluk Johan en baie geluk Simonsig.

Op die onlangse Suid-Afrikaanse Olyftoekennings wat plaas gevind het aan die einde van Augustus by die Cascade Manor buite die Paarl, het Morgenster ook goud vir sy olyfolie ontvang.  Die toekening is in ontvangs  geneem deur Chris van Niekerk. ’n Totaal van 16 goue, 11 silwer en 12 brons en 6 dubbel goud is toegeken.  Baie geluk aan Chris en Morgenster.

Ledegeld en donasies.

Ons sê by voorbaat dankie aan die lede uit die Welligton-distrik wat onder leiding van Edie Malan, Voorsitter van die Malan-Familiebond, Wes-Kaap skenkings gemaak het om die koste van die plaat wat die Bond te Morgenster wil opsit, te dek.

Ledegeld vir 2011 beloop steeds R125-00 per persoon jaar. Die Malan Vonk is gratis behalwe posaflewerings wat R30-00 beloop.

Lidmaatskap van die Hugenote Vereniging van SA.

Na aanleiding van ’n versoek van die Labuschagne-Familiebond het die Hugenote vereniging die volgende besluit geneem: “Die bestuur het besluit dat aan groeplidmaatskap van 10 of meer lede,’n afslag van 33% gegee sal word. Dit beteken dat die jaarlikse lidmaatskap van R50 na R33.33 verlaag en die lewenslange lidmaatskap van R300 na R200 verlaag. Die minimum van 10 kan gemeng word, dws 7 jaarliks en 3 lewenslede.” Die Fourie-Familiebond gaan dieselfde doen. Ons sal bly wys indien lede vir ons hul mening kan deurstuur sodat ons ’n behoorlike besluit daaroor kan neem.

Toer Op die Spore van Jacques Malan

Die voorlopige datum vir hierdie toer is 6 tot 24 September 2012. Die gedagte is om die roete wat ons voorvader jacques in 1687 gevolg het na te volg. Die toer sal dus vanaf St Martin-de-la-Brasque via Lausanne, Sachsenhausen en Franffurt na Rotterdam gaan. Torre Pellice (La Tour) in Piedmont en die Waldensiese Museum in Ötisheim-Schőnenberg sal ook besoek word. Ons sal vergesel word deur dr Albert de Lange, kenner van die Waldensiese geskiedenis. Albert praat Frans, Italiaans en Duits vlot en sal dus ook as ons tolk optree. Hy is Nederlands van geboorte en het tydens my besoek aan hom en die Waldensiese museum in 2009 daarop aangedring dat ek Afrikaans met hom praat!

Ek beplan om die groep klein te hou en vra dat belangstellendes hulle name aan my sal verskaf per e-pos of Posbus 11766 Bendorpark 0699. Dit plaas u natuurlik op hierdie stadium onder geen verpligting nie. Persone wat eerste van hulle laat hoor sal egter voorkeur kry as die getalle te veel raak.

Beste Malan-Familiegroete

Die Bestuur

(Opgestel deur Dennis en Hercules Malan)