Inhoud Hoofstuk 2


1. Inleiding

Die eerste sistematiese genealogiese register van die Suid-Afrikaanse Malans het in 1894 in C C de Villiers se Geslacht-Register der Oude Kaapsche Familien verskyn. Die name van ongeveer 400 Malans kom in die werk voor.

Gedurende 1939 het die Hugenote-Kwartmilleniumgedenkfeeskomitee vraelyste aan Hugenote-afstammelinge gestuur om genealogiese inligting in te samel. Die doel was om 'n Hugenote-stamboek saam te stel. Van hierdie ambisieuse projek het niks gekom nie, maar die 195 vraelyste wat deur Malans voltooi is het uiteindelik, saam met die ander families se lyste, by die Hugenote-gedenkmuseum in Franschhoek tereggekom.

Jacques Malan het, met die ywerige samewerking van veral Fransie Malan van Wellington en Jacques Malan van Stellenbosch, gedurende 1948 tot 1953 'n geweldige klomp veldwerk gedoen. Die resultaat was 'n register van 1600 name wat nooit gepubliseer is nie omdat Jacques besef het dat hy nie die ideaal van 'n “volledige register” sou kon bereik nie.

Ek self het in 1984 begin navorsing doen oor die Malanfamilie. Ek wou aanvanklik net my eie tak navors, maar het gedurende 1986 besluit om alle navorsing oor die Malans in een boek bymekaar te bring. Uiteindelik het ek self verdere navorsing begin doen en in 1987 vraelyste aan soveel Malans as moontlik gestuur.

Die Malans van Suid-Afrika – Geskiedenis en Geslagsregister is in 1988, gedurende die driehonderjarige herdenking van die aankoms van die Hugenote in Suid-Afria, gepubliseer. Dié werk het die name van 5300 gebore Malans bevat.

Ek het my taak op daardie stadium as afgehandel beskou, maar is spoedig ná die verskyning van Die Malans van Suid-Afrika oorval met bykomende inligting wat deur Malans aan my gestuur is. Ek het benewens nuwe genealogiese inligting ook baie biografiese inligting gekry. Ek het ook nuwe inligting oor die vroeë geskiedenis van die Malans deur kontakte in Europe en die Verenigde State van Amerika verkry.

Ek is verder aangevuur deur my twee nuwe medewerkers, die twee Danies wat nou mede-outeurs van die tweede uitgawe van Die Malans van Suid-Afrika is. Danie van Stellenbosch het op sy eie 'n nuwe genealogie-rekenaarprogram geskryf en die Malans se besonderhede daarop geplaas. My eerste kontak met hom was nadat hy reeds alle inligting in die boek ingesleutel het. Danie van Pretoria het weer op eie houtjie verdere navorsing oor die Malans begin doen en ek het hom eers ontmoet nadat hy reeds 'n klomp werk gedoen het.

Met hierdie uitgawe is die vroeë geskiedenis van die Malans totaal herskryf omdat baie van die oorlewerings van die verlede eenvoudig nie kon standhou voor nuwe gegewens nie. Die oorlewering dat “Malan” 'n skeldnaam was en dat die Malans sogenaamde “Oorspronklike Christene” was, wat nooit die Rooms-Katolieke leer aanvaar het nie, kan nie meer aanvaar word nie. Die verhaal van die name van Malans wat in die kronieke van La Tour van die elfde eeu voorkom kan onmoontlik waar wees. Die tempels en dorpies wat na bewering in die elfde eeu na Malans genoem is en die vlug na Mérindol in die jaar 1112 is almal verdigsel.

Ten spyte van die “verlies” van 'n deel van die “Malans se geskiedenis” glo ek dat ons geskiedenis inderdaad verryk is deur die nuwe beskikbare inligting en dat dit meer as kompenseer vir enige “geskiedenis” wat nie meer aanvaar kan word nie. Ek glo dat daar nog bronne in Europa is wat verder ongin kan word en dat die verhaal van die eerste Malans vorentoe net nóg interessanter sal word.

Die register bevat die name van 9826 gebore Malans, benewens die klompie ongeklassifiseerdes. Daar is dus in totaal meer as 10000 Malans se name opgeneem. Persone se beroepe is so ver moontlik vermeld en in die geval van boere die plase waarop hulle boer of geboer het.

Vanweë die omvang van die werk moes ons noodgedwonge twee volumes uitgee. Die register beslaan 'n afsonderlike boek en die indekse is, ietwat onkonvensioneel, in die eerste bundel geplaas. Hierdie rangskikking vergemaklik die opsoek van persone deurdat die register en die indeks gelyktydig oopgehou kan word.

Benewens my mede-outeurs wil ek graag elke Malan wat 'n bydrae tot hierdie boek gelewer het bedank. In besonder J C, voorsitter van die Malan-familiebond en jarelange vried en ondersteuner, Fanie, ywerige navorser met 'n ongelooflike oog vir detail, Hannes, wat gedurig nog inligting uit ou koerantberigte opgediep het en Ron, Malangeskiedkundige van Orem, Utah.

Ook my hartlike dank aan die medewerkers van die vorige uitgawe: Jacques, Alet, Danie, Cliff, Jëan, Rousseau, Francois en Kintie Malan en Bettie Barry, G E Brink en F A Smit.

Ek dra graag hierdie werk op aan die nagedagtenis van my vader, Paul Johannes Roos Malan, wat die voorreg ontsê is om hierdie publikasie te beleef.


Inhoud Hoofstuk 2