Inhoud Hoofstuk 1  Hoofstuk 3


2. Die oorsprong en geskiedenis van die Malans

Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. Openb. 20:4 (Nuwe vertaling, 1983)

Ná die kruisiging van Christus in die jaar 29 n.C. het die Christelike geloof gaandeweg deur die Romeinse Ryk versprei. Die Christene is aanvanklik as aanhangers van 'n Joodse sekte beskou en is van owerheidsweë met rus gelaat. Met verloop van tyd het daar egter al meer vervolging plaasgevind en duisende Christene het 'n marteldood ter wille van hulle geloof gesterf.

In 313 n.C. het die Romeinse keiser, Konstantyn die Grote, die Edik van Milaan uitgevaardig waarvolgens alle vervolging van Christene stopgesit is. Die Christelike geloof het daarna die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword.

Baie staatsamptenare het toe die Christelike geloof aanvaar om die owerheid se guns te wen. Dit het spoedig daartoe gelei dat die kerk nie meer net bestaan het uit gelowiges wat uit oortuiging Christene was nie, maar ook uit diegene wat by die kerk aangesluit het om hulle posisie in die samelewing te verbeter.

Die biskop van Rome het mettertyd daarop aanspraak gemaak dat hy die opvolger van Petrus sou wees wat dan glo die eerste biskop van Rome sou gewees het. Op grond van Jesus se woorde aan Petrus in Matteus 16:18-19: "En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee; en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.", het die biskop van Rome daarop aanspraak gemaak dat hy die aardse hoof van die kerk is. Hy het homself ook die titel "Pous" (vader) toegeëien. Daar is nie geskroom om gelowiges en kerkleiers met geweld tot onderdanigheid te dwing nie.

In die kerk het die gedagte van "heiliges", wat as tussengangers tussen God en die gelowiges kon optree, posgevat. Maria, die moeder van Jesus, is ook al hoe meer vereer en later feitlik aanbid. Veel is ook gemaak van relikwieë wat kwansuis bestaan het uit stukkies van die kruis of beendere of bloed van die apostels en heiliges. Hierdie voorwerpe is dan bewaar en aanbid.

Vroeg in die vyfde eeu het Vigilantus, wat in 370 n.C. gebore is, die aanbidding van heiliges, beelde en relikwieë en gebede vir afgestorwenes veroordeel. Vigilantus het in Piedmont gewoon en verskeie biskoppe in dié streek het hom ondersteun.

In 830 n.C. het Claudius, biskop van Turyn, na die valleie van Piedmont gevlug nadat hy geweier het om die biskop van Rome se oppergesag te aanvaar. Claudius het verkondig dat 'n mens net deur geloof salig kan word en het alle beelde uit kerke in sy gebied laat verwyder.

In 945 rapporteer die biskop van Vercelli, naby Turyn in Piedmont, dat daar 'n groep mense as "Profete" in sy gebied optree. As gevolg van hulle prediking het 'n aantal mense die Roomse kerk verlaat.

In 1030 het die aartsbiskop van Milaan 'n klomp afvalliges van Piedmont na Milaan laat bring om verhoor te word. Hierdie mense het geweier om die rituele van die Roomse kerk te erken en het gesê dat die Bybel hulle enigste gesag is. Agt-en-twintig van hierdie "ketters" is uiteindelik in Milaan voor die katedraal verbrand.

In 1135 tree Arnaldo de Brescia op as leier van 'n volksbeweging in Lombardye in Noord-Wes Italië teen die Romeinse kerk. Arnaldo kritiseer die kerklike leiding en dring aan op 'n volledige skeiding tussen kerk en staat. Milaan was die middelpunt van hierdie opstand teen die kerk.

Tussen die jaar 1173 en 1176 vind 'n gebeurtenis in Lyon, Frankryk, plaas was uiteindelik gevolge vir baie mense in verskeie plekke in Europa en ook in Piedmont sou hê. 'n Ryk koopman en politieke figuur, Valdès, luister op 'n dag op die markplein na 'n troebadoer wat in 'n lied die verhaal vertel van ene Alexis, 'n ryk man uit 'n adellike familie, wat op sy huweliksnag sy bruid en familie verlaat het om 'n pelgrimsreis na die Heilige Land te maak. Alexis het jare later teruggekeer en is deur niemand herken nie. Hy het uiteindelik in armoede gesterf. Valdès is so deur dié verhaal aangegryp dat hy met 'n teoloog daaroor gaan praat het. Laasgenoemde het uiteindelik vir hom Matteus 19:21 voorgelees waar Jesus die ryk jongman beveel het om al sy besittings te verkoop, die opbrengs aan die armes te gee en Hom te volg.

Valdès laat daarna stukke uit die Bybel in die volkstaal vertaal en doen uiteindelik afstand van al sy besittings, wat hy onder die armes uitdeel.

Gou het 'n groep volgelinge om Valdès versamel. Hulle het hulself "Die Armes van Gees" genoem en twee-twee uitgegaan om die volk op te roep tot berou, die doen van werke en 'n Christelike lewenswandel. Die predikers, waaronder vroue, is deur aalmoese onderhou.

Aanvanklik was daar min teenstand van die kerk en was Guichard, aartsbiskop van Lyon, hulle goedgesind. In 1179 verskyn Valdès voor die Derde Lateraanse Konsilie in Rome en die pous self keur sy doelstellings goed. As bewys van Valdès se trou aan die kerk onderteken hy 'n katolieke geloofsbelydenis.

Die weerstand van die gevestigde kerk teen leke wat preek en verkondig dat die Evangelie hulle direk, sonder die tussenkoms van 'n ampsfiguur van die kerk, aanspreek, neem egter gaandeweg toe. Die "Armes" word verbied om verder te preek en word in 1184 op die Konsilie van Verona as 'n "veroordeelde beweging" in die ban gedoen. Toe Valdès weier om op te hou preek, word hy en sy volgelinge uit Lyon verdryf.

Hierna verander "Die armes van Lyon" van 'n opwekkingsbeweging binne die Roomse kerk na 'n protesbeweging. Onder die invloed van ander protesbewegings teen die kerk, soos die Katare, die volgelinge van Peter de Bruys, en die monnik Henry, raak hulle al meer krities teen die mag en rykdom van die Roomse kerk. Hulle veroordeel ook die verering van heiliges en relikwieë en die gebede vir afgestorwenes.

Die volgelinge van Valdès versprei al verder in Noord- en Suid-Frankryk en in Spanje en Beiere. In Noord-Frankryk is hulle veral aktief in die deel van Boergondië wat vandag bekend is as Franche-Comté.

In 1207 spreek Arduin, biskop van Turyn, sy kommer uit oor die "apostoliese sektariërs" wat in Piedmont bedrywig is en in 1210 gee keiser Otto IV, op besoek aan Turyn, die nuwe biskop, Carision, opdrag om die "Waldensiese ketters" uit sy gebied te verdryf. In 1215 vaardig die Vierde Lateraanse Konsilie 'n dekreet uit waarvolgens alle Waldensiese "ketters" aan hulle sekulêre heersers oorhandig moes word en hulle besittings konfiskeer moes word en in 1220 word in Pinerolo opdrag gegee dat enigiemand wat 'n Waldenser huisves, beboet moes word.

Die deel van Piedmont wat later as die Waldensiese valleie bekend sou staan, was 'n vrugbare teelaarde vir die leer van die Waldensers. 'n Mens kan dit maklik verstaan in die lig van die lang geskiedenis van verset teen die Romeinse kerk in dié streek.

In 1261 verskyn die naam Malan vir die eerste keer in van die oudste dokumente van Piedmont wat behoue gebly het. Dié persoon was 'n inwoner van Molines, in die Queyrasvallei, aan die westekant van die Cottiese Alpe. Molines lê vandag aan die Franse kant van die Frans-Italiaanse grens.

Hierdie Malan was waarskynlik afkomstig van Boergondië. In Boergondië kom daar vandag nog twee dorpies met die naam Malans voor.

Die dorpies met die naam Malans is moontlik na ene Malon, ook bekend as Mallenus en Maillenus, biskop van Grenoble omstreeks 1030, genoem. Dit kom voor of 'n broerskind van die biskop na hom genoem kon gewees het, want in 1195 is 'n wingerd in dieselfde gebied deur Garamburge, abdis van St. Pierre, aan ene Mallen gegee. Hierdie persoon was vermoedelik 'n afstammeling van die biskop se neef.

Dit is ook bekend dat 'n Pierre Malent van Lyon in 1284 oorlede is. Hy was getroud met Blanche de la Vavrette. Die egpaar het minstens twee seuns, Jean en Bernard, gehad. Van Bernard is dit bekend dat daar tussen ongeveer 1262 en 1724 die volgende kinders vir hom gebore is: Jean, Barthelemi, Guillaume, Jeannette, Salvagie, Jacquemet en Audisie

In dokumente van Vaucluse van 1414 kom die name van die volgende persone voor: Pierre Maillan, Raymond Malhon en Antoine Millon. Hulle was waarskynlik almal verwant aan Pierre Malent. Dit wil egter voorkoms of hierdie families later uitgesterf het.

Die eerste Malan in Piedmont was moontlik Jean of 'n ander seun van Pierre Malent. Dié Malan het moontlik as Waldensiese sendeling van Boerdondië na Piedmont gekom en in Molines agtergebly om met 'n plaaslike meisie te trou.

Teen die einde van die dertiende eeu was daar reeds 'n groot Waldensiese gemeenskap in Piedmont. Vervolging het al hewiger geword en in 1290 val die Hertog van Savoje, deur die pous in Rome daartoe aangehits, die Waldensers van Piedmont aan. Hulle is voor die voet doodgemaak. 'n Jong meisie, Jeanne Malan, is eers gemartel en daarna met 'n skerp paal deurboor. Gelukkiger was André Malan, wat met sy lewe daarvan afgekom het alhoewel sy huis afgebrand en sy landerye verniel is.

In 1309 het 'n leër in opdrag van Pous Clemente die Waldensers opnuut aangeval en hulle dorpe geplunder en afgebrand. Die oorlewende Waldensers het na die berge gevlug.

Laurent Malan het met sy vrou en kind tussen die steil rotse van die Taillant geskuil toe hulle deur die soldate ontdek is. Nadat hulle geweier het om hulle geloof af te sweer, is hulle van 'n krans afgegooi.

In 1332 het Pous Johannes XXII inkwisateurs na die Waldensiese valleie gestuur om die "ketters" te ondervra.

Op Kersdag 1386 het die inkwisateur Borelli die Waldensiese vallei van Pragelato binnegeval en 150 mense, waaronder 50 klein kindertjies, gedood.

In 1415 verskyn die naam van 'n Malan vir die eerste keer in 'n dokument in La Tour. (La Tour is vandag bekend onder die Italiaanse naam Torre Pellice).

In 1440 het Keiser Sigismund self teen die Waldensers opgetrek. Barthelemi Malan van Angrogna is deurboor nadat hy gevange geneem is terwyl hy besig was om bid. Hy het sterwend die Naam van Jesus bely.

Ná 1440 was daar vir 'n lang tyd geen vervolging van Waldensers in Piedmont meer nie.

In 1478 word die naam van Bergogno Malanot twee keer in dokumente van Luserna san Giovanni genoem. Die naam Bergogno dui op 'n persoon wat uit Boergondië gekom het. Die gebruik van die verkleiningsvorm Malanot dui daarop dat daar teen daardie tyd reeds soveel Malans in die omgewing was dat daar tussen takke van die familie onderskei moes word.

In 'n dokument van 5 Februarie 1481 beloof die hertog Philibert van Savoje beskerming aan verskeie inwoners van Angrogna en hulle eiendom in ruil vir die betaling van 'n pond was per jaar per persoon. Onder die persone wat in die dokument genoem genoem word, is die name van Johannis Malan en Girardo Malan. Die was is gebruik vir die verseëling van amptelike dokumente.

In 1484 kom hernieude vervolging van die Waldensers in Piedmont voor en in 1488 val 18000 soldate die Waldensiese valleie binne. Hierdie keer bewapen die Waldensers hulself met houtskilde en boë en verslaan die vyand in die bergpasse bokant die vallei van Pragelato. In die vallei van Angrogna verdwaal die soldate in die mis en vlug halsoorkop ná die dood van hulle leier, Saquet. Karel II, Prins van Piedmont, maak in dieselfde jaar 'n einde aan die vervolging en herstel die Waldensers se regte.

As gevolg van die voortdurende aanvalle teen hulle, het baie Waldensers aan die einde van die vyftiende eeu na die Luberonstreek in Provence in Frankryk getrek.

Die gebied tussen die Durancerivier en die Luberonberg is in 1348 deur die Pes (ook bekend as die Swart Dood) getref en die grootste deel van die bevolking het daaraan beswyk. Tussen 1390 en 1400 het daar 'n bloedige oorlog tussen Raymond van Toulouse en Lodewyk II van Provence geheers. Daardeur is die bevolking van die streek nog verder uitgeroei en die vernaamste dorp in die omgewing, Mérindol, is in die puin gelê. Al die dorpe in die Luberonstreek is uiteindelik ontruim en die landstreek is as wildernis agtergelaat.

Lodewyk II was verplig om die vallei van Aigues en die hange van die Luberon aan Centallo en Demante, seigneurs van Piedmont, te verkoop om sy oorlogskuld te delg. Bewoners van die Waldensiese valleie van Piedmont is toe aangemoedig om hulle in die verlate landstreek van die Luberon te vestig en verskeie Waldensiese nedersettings is langs die Durancerivier gestig.

Grootskaalse herbewoning van die Luberon het egter eers in die sestiende eeu plaasgevind nadat die actes d'habitation uitgevaardig is - in 1504 vir Mérindol en in 1506 vir St Martin d'Aigues.

Dit is onbekend wanneer die eerste Malans hulle in die Luberon gevestig het, maar in 1520 was Antoine Malan, afkomstig van Luserna, 'n getuie by 'n huwelik op La Motte d'Aigues.

In 1532 word Antoine Malan van Lacoste genoem as iemand wat skuiling aan die Waldensiese prediker Pierre Griot verskaf het. Die inkwisateur was Jean de Roma, wie se ondervragings so wreed was dat Frans I, koning van Frankryk, hom in 1533 van sy pos onthef het.

In 1545 duik die naam van Anatoine Malan van Lacoste weer op toe hy as trustee aangewys is vir vier neefs wie se vader intestaat oorlede is. Dit is onseker of dié Antoine Malan dieselfde persoon is na wie hierbo verwys is. Dit kon moontlik 'n pa en seun met dieselfde naam gewees het.

Dit is bekend dat Jacques Malan, die stamvader van die Suid-Afrikaanse Malans, 'n oom met die naam Antoine gehad het en dat hy uit die Aiguesvallei afkomstig was. Hierdie merkwaardige toeval lei 'n mens daartoe om te vermoed dat Antoine Malan van Luserna san Giovanni 'n voorouer van Jacques Malan was.

Die dorpe van die Luberon verrys dus weer ná 1500, maar hierdie keer as setels van die Waldensers. So vind 'n mens dat daar in die nuwe Mérindol slegs vier Roomse gesinne was!

Intussen het die Hervorming in 1517 in Duitsland begin en predikers soos Guillaume Farrel het die Waldensers gewys op die ooreenkoms tussen hulle leerstellings en dié van Luther en Calvyn. Die Waldensers het gevolglik in 1532 te Chamforan in Piedmont besluit om by die Gereformeerde Kerk aan te sluit. Die druk van die eerste Protestantse Bybel in Frans is deur die Waldensiese Kerk gefinansier.

In Piedmont het die Waldensiese Kerk in dié tyd so sterk gestaan dat die Roomse mis uit Piedmont verban en die priesters uit die landstreek verdryf is. Terselfdertyd is die Bybel in die plaaslike dialek vertaal en gedruk.

Die Waldensers van Provence sou egter nie lank in vrede leef nie. In 1532 het die parlement van Aix-en-Provence opdrag gegee dat die Waldensers hulle geloof moes afsweer of die land verlaat. Alle natuurrampe, soos die oorstroming van die Durance, hael en misoeste is aan die Waldensers se leer toegeskryf.

Op 18 November 1540 vaardig die parlement van Aix-en-Provence die Dekreet van Mérindol uit. Daarvolgens is negentien inwoners van Mérindol tot die brandstapel gevonnis terwyl opdrag gegee is dat die dorp afgebrand , die kasteel van Mérindol vernietig en die omringende woud afgekap moes word. Die oorblywende inwoners van Mérindol moes in die tronk gestop word.

'n Hewige reaksie het van die kant van die Waldensers en baie Rooms-Katolieke gevolg. Dit lei daartoe dat Frans I, koning van Frankryk, op 18 Februarie 1541 'n algemene amnestie vir die Waldensers aankondig op voorwaarde dat die veroordeeldes binne drie maande hulle geloof moes laat vaar. Die Waldensers se antwoord daarop was 'n geloofsbelydenis met aanhalings uit die Skrif om hulle standpunt te staaf. Dié belydenis is op 6 April 1541 opgestel en aan Frans I gestuur.

Die president van die parlement van Aix-en-Provence, Jean Maynier, die baron d'Oppède, het daarop aangedring dat die Dekreet van Mérindol uitgevoer moes word. Hy het uiteindelik toestemming daarvoor van koning Frans I ontvang.

Van 16 tot 21 April 1545 is die Waldensiese dorpe in die Luberon deur vierduisend soldate, onder aanvoering van die baron d'Oppède self, aangeval. Die dorpe is een vir een verniel en verbrand: onder meer Peypin-d'Aigues, Saint-Martin d'Aigues, Très Emines, La Tour d'Aigues, La Motte d'Aigues, Cabrières d'Iaigues, La Roque-d'Antheron, Sanit-Estève-Janson, Lourmarin, Villelaure, Mérindol, Lacoste, Murs, Gordes, Cabrières d'Avignon en Cabriérètes.

Met die aanval op Mérindol, die hoofdorp van die Waldensers, op 18 April, is gevind dat al die inwoners gevlug het. Slegs die dorpsidioot, 'n seun met die naam Maurice Blanc, het te voorskyn gekom en hom oorgegee. Hy is toe aan 'n olyfboom vasgemaak en met 'n musket doodgeskiet. 'n Groep vroue wat in 'n naburige tempel, soos die Waldensers se kerke genoem is, aanbid het, is deur die soldate oorval. Daarna is hulle nakend uitgetrek en gemolesteer voordat hulle na die kasteel van Mérindol gemarsjeer en gedwing is om van 'n hoë tots af te spring.

Altesaam 22 dorpies is verbrand, 884 huise en plase verniel en 1840 mense gedood. Die oorlewendes is deur die parlement van Aix-de-Provence vervolg. Van hulle is 255 tot die brandstapel veroordeel en 666 as slawe na die galeie gestuur.

Toe Frans I berig ontvang van die slagting, het hy onmiddellik 'n ondersoek gelas, maar hy is dood voordat daar enigiets van kon kom.

Die nuwe koning, Hendrik II, het die Dekreet van Mérindol nietig verklaar en al die "ketters" vrygestel. Diegene wat vir die slagting verantwoordelik was, is in 1551 voor die parlement van Parys gedaag om verhoor te word. Die aanvoerders, waaronder die baron d'Oppède, is ten spyte van getuienis teen hulle, vrygespreek en in hulle posisies herstel. Daar moes egter 'n voorbeeld van iemand gemaak word en die staatsaanklaer, Guérin, is ter dood veroordeel. Hy is op 20 April 1554 op die Place de Halles in Parys opgehang, waarna sy hoof na Aix-en-Provence gestuur is om op die Place des Prêcheurs vertoon te word.

Die baron d'Oppède is later bevorder tot ridder van St Jean de Latran van die Goue Spoor, maar het in 1556 tot 'n afskuwelike einde gekom toe hy deur 'n Protestantse dokter vergiftig is.

Die meeste van die oorblywende Waldensers van Provence het na hulle geloofsgenote in Piedmont gevlug, maar het weer ná 1556 na die Luberon teruggekeer. Teen 1560 was Mérindol weer eens die sentrum van die Waldensiese gemeenskap in Provence.

Slegs enkele dokumente en fragmente van kerkregisters uit die Luberon, waarin na Malans verwys word, het uit die sestiende eeu behoue gebly.

Afgesien van Antoine Malan na wie reeds verwys is, is dit bekend dat 'n Jacques Malan van Lourmarin in 1525 gesterf het. 'n Notaris het op 4 Desember 1525 'n inventaris van sy boedel vir sy weduwee, Agate, en hulle twee dogters opgestel. Jacques was blykbaar redelik vermoënd en het onder andere 'n huis, 'n skuur, 'n wingerd, 'n boord, 'n weiveld, vyf bokke en dertig skape besit.

Op 30 Oktober 1539 het Suffren en Thonètte Malan van Lacoste as peetouers opgetree by die doop van Jeanne Carbonel.

In 1542 word Jean Malan in 'n dokument beskryf as 'n inwoner van Lacoste en Bonnieux. Dit beteken waarskynlik dat hy in Lacoste gewoon het, maar dat sy boedrdery by Bonnieux was.

In 1548 word Louis Malan, 'n landbouer, gevonnis tot drie jaar diens vir die koning op die gallei Saint-Piarres. Dit is nie bekend van watter misdryf Louis aangekla is en of hy weens sy geloof gevonnis is nie.

Op 5 Desember 1558 is Claude Malan van Lacoste getroud met Catherine Roman van Mérindol.

In 1571 word daar vir die eerste keer in 'n amptelike dokument melding gemaak van Malans in Mérindol. Die adres van Philippe Malan word aangegee as "Rocas de Bertrands". In 1599 word opgeteken dat Barthelemi Malan by dieselfde adres gewoon het. Barthelemi was dus waarskynlik 'n seun van Philippe.

Ook in Piedmont vind ons enkele verwysings na Malans in die sestiende eeu. In 1557 het 43 "notables" van die Vallei van Luserna opdrag ontvang om aan die hof van Turyn voor die Prins te verskyn om verantwoording te doen vir die dade van hulle geloofsgenote. Guillaume Malan, seigneur (raadslid) van Luserna en sy broerskind, Jean Malanot, het die afvaardiging gelei.

Op 15 Junie 1561 onderteken Jean Malan en Jacques Malanot, seigneurs van St Jean, as verteenwoordigers van die Waldensers, die vredesverdrag tussen Immanuel Philbert, hertog van Savoje, en die Waldensers.

In Frankryk het die Protestante, wat nou Hugenote genoem is, intussen al sterker geword en hulle het in Provence die Roomse soldate begin aanval. Karel IX, Hendrik II se opvolger, het daarop 'n Edik van Vrede uitgereik wat vryheid van godsdiens aan die Hugenote toegestaan het.

Oor die oorsprong van die benaming Hugenoot bestaan daar verskeie teorieë, maar die waarskynlikste is dat dit van die Duitse woord "Eidgenosse" (eedgenoot), dit wil sê samesweerder, afgelei is.

Tydens die massamoord op die Hugenote in Parys tydens die Bartholomeusnag in 1572 is die Hugenote in Provence met rus gelaat.

In 1576 het Hendrik III, die nuwe koning, die Vrede van Beaulieu uitgeroep waarmee sekere godsdienstige en politieke regte aan die Hugenote gegee is. Sporadiese vervolging van Hugenote het egter nog voorgekom.

In 1589 is Hendrik III deur 'n Dominikaanse priester vermoor. Hy is opgevolg deur Hendrik van Navarre, die leier van die Hugenote in Frankryk. Hendrik het afstand gedoen van sy Calvinistiese geloof en die troon as Hendrik IV bestyg. Hendrik se aanvaarding van die Rooms-Katolieke geloof het daartoe gelei dat geen Hugenote-ouers daarna hulle seuns Hendrik (Henri op Frans) gedoop het nie!

In Piedmont het die Waldensers in 1592 vir André Malan, signeur van La Tour, afgevaardig om namens hulle 'n petisie, waarin om vrede gevra is, aan Hendrik IV te oorhandig. André Malan is hartlik deur die koning ontvang en vrede is aan die Waldensers beloof.

In 1598 het Hendrik IV die Edik van Nantes uitgeroep. Hierdie dokument het geloofsvryheid aan die Hugenote in Frankryk toegestaan.

Hendrik IV is in 1610 deur Francois Ravaillac vermoor. Daarna is daar geleidelik meer druk op die Hugenote uitgeoefen totdat hulle, ná die beleg van La Rochelle in 1628, hulle militêre mag verloor het. Alhoewel die Edit de Grâce in 1629 uitgeroep is om die Hugenote se godsdienstige regte te waarborg, was dit inderwaarheid die begin van die einde vir hulle.

Intussen is die Waldensiese valleie in Piedmont in 1630 deur die Swart Dood, die Pes, getref. Meer as die helfte van die bevolking daar is dood. Slegs een Waldensiese pastor het oorgebly en hulp van die Gereformeerde Kerk in Geneve gevra. 'n Aantal predikante is van Geneve na Piedmont gestuur, maar hulle kon nie die landstaal, Provensaals, praat nie en die kerktaal het gevolglik Frans geword. Hierdie situasie is tot in die twintigste eeu gehandhaaf.

In 1655 het vervolging weer in Piedmont voorgekom en Anne Malan, van St Jean (San Giovanni), is met haar kind in haar arms, van 'n bergtop in Angrogna afgegooi. Jeanne Malan, dogter van Jean Malan, hooflandros van La Tour, is in dieselfde tyd weens haar geloof vermoor.

Op 13 September 1661 is 'n petisie vir vrede en beskerming by die dorpe Malans en Les Malanots opgestel. Die petisie is deur seigneur Malan, konsul van St Jean en Malan, raadslid van La Tour, aan die Franse koning, Lodewyk IV, oorhandig. Daarna was daar tydelik weer vrede.

In 1665 het 'n groep Rooms-Katolieke opnuut Waldensers in Piedmont aangeval. Jean Malan is oorrompel terwyl hy in sy huis gebid het. Hy is uiteindelik vermoor nadat hy geweier het om die Naam van Jesus te laster. Jeanne Malan is weer op haar beurt lewend verbrand.

In Provence is daar ook toenemende druk op die Hugenote uitgeoefen. In 1657 versoek Malan, konsul van Mérindol, die owerheid om die inkwartiering van soldate by Hugenote te beëindig.

Kardinaal Grimaldi, aartsbiskop van Aix-en-Provence, het die priester Antoine opdrag gegee om die inwoners van Mérindol "tot die ware geloof terug te bring". Sy pogings het egter geen vrugte afgewerp nie en toe Antoine in 1676 dood is, was daar nog geen enkele Katoliek in Mérindol nie!

In 1680 weier die Hugenote van Mérindol dat 'n Rooms-Katolieke onderwyser, André Boier Selinan, hulle kinders onderrig. Selinan sou teen 'n salaris van 66 livres deur die konsuls van Mérindol aangestel word.

Nadat Lodewyk XIV in 1661 koning van Frankryk geword het, is die Hugenote se voorregte stelselmatig ingekort. Tussen 1661 en 1685 is ruim 300 verordeninge teen hulle uitgevaardig. Talle Hugenotetempels en ~skole is gesluit, predikers se bewegingsvryheid is beperk, en die beoefening van sommige beroepe, soos vroedvrou, geneesheer en advokaat, is vir Hugenote verbied. Priesters is ook die reg gegee om sterwende Hugenote tot die Rooms-Katolieke geloof te probeer oorhaal.

Die tempel van Saint Martin d'Aigues is in 1663 gesloop en dié van Mérindol in 1684. Ná die sloping van die tempel van Mérindol is die Hugenote gelas om die tempel se boukoste aan die gemeenskap terug te betaal! Die raadslid Thomas Malan was een van die persone wat op 20 Mei 1683 in 'n vergadering van ouderlinge heftig beswaar gemaak het teen die voorgenome sloping van Mérindol se tempel.

Van 1681 af is die veldtog teen die Hugenote ook verskerp deur die "draggonades", dit is die verpligte inkwartiering van dragonders (soldate) by Hugenotegesinne. Die gesinne moes hulle dan onderhou en selfs betaal. Ná 1683 is alle bekerings tot die Protestantisme verbied en in 1684 is die Calviniste verplig om die Katolieke Kerk finansieel te ondersteun.

Op 22 Oktober 1685 het Lodewyk XIV deur die uitvaardiging van die Edik van Fontainebleau die Edik van Nantes herroep. As rede is aangevoer dat die meerderheid van die lede van die "Religion prétendue réformée" hulle tot die Katolieke geloof bekeer het en dat dit gevolglik moontlik geword het om al die kwaad wat deur 'n valse geloof oor die volk gebring is, uit te wis. Alle Hugenotepredikers moes Frankryk binne veertien dae verlaat, maar alle ander Hugenote is verbied om te emigreer. Geen verdere beoefening van die Calvinistiese geloof sou toegelaat word nie.

Die meeste van die Protestante van Mérindol het verkies om te vlug eerder as om hulle geloof af te lê. Die konsul van Mérindol, Claude Malan, is in 1687 onder andere na Thomas Malan gestuur om 'n inventaris op te stel van die besittings van Thomas se seuns, René (22 jr) en André (16 jr), wat gevlug het. Thomas was 'n chirurgyn van beroep en is die persoon na wie verwys is as 'n beswaarmaker teen die sloping van die tempel van Mérindol. Ná Thomas se dood is sy landgoed deur die staat gekonfiskeer. Sy seuns het dus niks uit die boedel ontvang nie. Dit is nie bekend wat van René geword het nie, maar André is in 1692 in Leiden getroud met Jeanne Câtel. André Malan is die stamvader van die Nederlandse tak Mallan.

Veral in Mérindol het Malans in die sewentiende eeu 'n baie prominente rol gespeel en 'n deel van die dorp is selfs "Quartier des Malan" genoem omdat soveel Malans daar gewoon het.

Henri Malan was in 1607 vrederegter van Mérindol.

Die name van 'n aantal Malans duik in 1634 in verband met grond in die rekords van Mérindol op. Henri Malan was verantwoordelik vir regstappe teen 'n paar persone wat wederregtelik grond bewerk het. In 'n soortgelyke hofsaak was een van die beskuldiges ene Pierre Malan!

Die Malans het ook 'n bydrae gelewer tot die bestuur van Mérindol. Claude Malan was in 1655 konsul en André Malan in 1657. Thomas Malan, wat in 1677 as belastinggaarder aangestel is, was in 1699 konsul.

Tussen 1675 en 1677 het baie van dié Malans as gevolg van vervolging uitgewyk na Vins, 'n klein dorpie in die suid-ooste.

Antoine Malan is voor 1675 getroud met Jeanne Richarde van Lacoste. Op 8 Augustus 1684 laat Antoine Malan en Isabeau Verdette 'n seun, Pierre, in Manosque doop. Volgens die doopregister is Pierre op 24 Julie 1684 gebore. Dit is waarskynlik dieselfde Antoine waarna hier verwys word, aangesien hy reeds 35 jaar oud was ten tye van Pierre se doop. Sy eerste vrou, Jeanne, het hom dus waarskynlik vroeg ontval.

Pierre Gardiol van Lacoste is op 11 Februarie 1683 in Mérindol getroud met Marie Malan. Sy was ook van Lacoste afkomstig.

In 1683 is die broers Daniel en Antoine, seuns van wyle Pierre Malan, landbouers te La Motte d'Aigues.

Die naam van Jacques Malan, 'n kleinboer van La Motte d'Aigues, kom in 1684 voor.

Die name van Francois Malan, 'n wewer van La Motte d'Aigues, en die landbouers Jacques en André Malan van Saint Martin d'Aigues, word omstreeks dieselfde tyd in die dokumente gevind.

Die naam van Jean Malan en sy vrou, Anne Grasse, kom in 1680 in die rekords van Mérindol voor. Jean se naam kom ook saam met dié van sy broers Jacques, Henri en Barthélemi in 'n dokument van 1690 voor. Jean se seun, Pierre, het in 1714, op 22 jarige leeftyd, na Geneve gevlug. Pierre se agterkleinseun, César Henri Malan, het later na Brittanje verhuis en hy kan as die stamvader van die Engelse Malans beskou word.

In 1695 kom die name van die volgende Malans in Mérindol voor: Claude, André, Mathieu, Guillaume, Jean, Jacques, Pierre en Henri.

Van die ongeveer een miljoen Hugenote in Frankryk in 1680 (sowat vyf persent van die bevolking) het 200000 tussen 1681 en 1720 emigreer. Onder hulle was ook Jacques Malan van St Martin d'Aigues, die stamvader van die Suid-Afrikaanse Malans.

 


Inhoud Hoofstuk 1  Hoofstuk 3