7. Jacques Malan en sy kinders
(* dui aan dat 'n hoofstuk oor die persoon volg.)
Die stamvader van die Suid-Afrikaanse Malans was Jacques Malan. Hy is tussen 1665 en 1670 in die dorpie Saint-Martin-de-la-Brasque in die Aiguesvallei, sowat 20 kilometer oos van Mérindol, gebore. Saint-Martin was ook vroeër bekend as Saint-Martin-d'Aigues.
Min is oor Jacques se vroeë lewe bekend, maar 'n paar afleidings kan uit enkele behoue dokumente gemaak word.
Dit is bekend dat Jacques 'n neef met die naam Pierre gehad het. Hy het ook 'n oom met die naam Antoine gehad. Laasgenoemde het 'n seun Pierre gehad.
As die twee neefs met die naam Pierre na dieselfde voorouer genoem is, moes dit hulle oupa gewees het. Die oupas se pa moes op sy beurt weer Antoine geheet het as Jacques se oom, Antoine, na 'n voorouer genoem is. Dit sou natuurlik inpas by die vermoede dat Jacques afstam van Antoine Malan van Luserna, wie se naam in 1520 genoem word.
Jacques se oupa was dus Pierre Malan en sy oupagrootjie Antoine Malan.
As Jacques, volgens Franse gebruik, sy oudste seun na homself en sy tweede seun na sy pa genoem het, moes Jacques se oudste seun Jacques geheet het. Dié seun is dan ook inderdaad Jacobus, die Nederlandse vorm van Jacques, gedoop. Jacques se tweede seun was Daniel en die afleiding kan dus gemaak word dat Jacques se vader Daniel Malan geheet het.
In 1701 het twee broers van Saint-Martin-de-la-Brasque, Daniel en Paul Malan, die owerheid genader in verband met die eiendom van hulle broer, Jacques, wat as 'n vlugteling beskryf is. Dié Jacques was in alle waarskynlik die Suid-Afrikaanse stamvader. Daniel sou dan na sy vader vernoem gewees het.
Die broers Daniel en Antoine Malan van La Motte-d'Aigues, die seuns van wyle Pierre Malan, na wie in 1683 verwys word, is moontlik Jacques se pa en sy oom.
Jacques was waarskynlik 'n wynboer soos talle ander inwoners van die Luberongebied.
Ná die herroeping van die Edik van Nantes vlug Jacques in 1687 saam met ander familielede na Lausanne, wat deel van die Switserse Konfederasie was. Volgens oorlewering was Jacques tydens dié reis as 'n vioolspeler vermom.
Van Lausanne is die groep vlugtelinge uit die Aiguesvallei na Frankfurt-am-Main waarheen baie Hugenote uit veral Dauphiné en Provence gevlug het voordat hulle na ander dele van Europe vertrek het.
Jacques Malan se naam kom voor in die register van vlugtelinge wat hulp van die Franse Gereformeerde Gemeente van Frankfurt ontvang het. Volgens die register het hulle Frankfurt in Oktober 1687 bereik.
Die groep het verder na die Verenigde Provinsies van die Nederlande gereis en het Rotterdam in Desember 1687 bereik.
Alhoewel Jacques se naam nie op die passasierslys voorkom nie, word aangeneem dat hy op 20 Maart 1688 saam met ander lede van die Malan-familie aan boord die Berg China van Rotterdam na die Kaap vertrek het. Die Malans wie se name wel op die passasierslys voorkom is Pierre Malan, Jacques se neef, Pierre se vrou, Isabeau Richarde, Jacques en Pierre se oom, Antoine Malan, sy vrou Isabeau Verdette en hulle babadogtertjie.
Onder die 19 passasiers wat tydens die lang seereis oorlede is, was al Jacques se familielede behalwe Isabeau Richarde. Sy is blykbaar, ná haar man se dood, aan boord die skip met Pierre Jaubert getroud nog voordat hulle Tafelbaai op 4 Augustus 1688 bereik het.
Jacques se vriend, Jean Jourdan, van die dorpie Cabriéres-d'Aigues, was ook op die Berg China. Jean is in 1660 gebore en is in 1690 aan die Kaap getroud met Isabeau le Long. Isabeau is in 1688 in die dorpie La Motte-d'Aigues gebore. Haar naam verskyn saam met dié van haar tante, Susanne Goirande, op die lys van vlugtelinge wat in Oktober 1687 in Frankfurt aangekom het. Van die tante is daar geen verdere rekord nie, maar Isabeau was in alle waarskynlikheid saam met Jacques 'n passasier op die Berg China.
Die kommandeur van die Kaap, Simon van der Stel, het names die V.O.C. Materiële hulp aan die Hugenote verleen. So ontvang Jacques in 1688 6 mud koring, 20 lb spykers, 1 graaf, 1 lb lood, 1 ysterpot, snaphaanstene, 1 snaphaan, 2 lb buskruit en 8 beeste om hom op die been te help. In 1689 ontvang hy 'n verdere 10 mud koring, 'n ploegskaar en 2 sekels.
Op 22 April 1689 het Simon van der Stel om geldelike hulp vir die Hugenote by die regering van Batavia aangeklop. Hy het daarop gewys dat hulle verarm was en dat hulle eers ná drie of vier jaar vrug op hulle arbeid kon verwag. Intussen moes hulle deur die Kompanjie uit die Armfonds onderhou word en alle gereedskap wat hulle nodig gehad het, moes op skuld van die Kompanjie gekoop word.
In reaksie op Simon van der Stel se brief is 'n wisselbrief vir 60000 rijksdaalders dadelik oorgestuur. Dit was geld wat oorspronklik die armfonds van 'n gemeente op Taiwan was. Nadat Taiwan deur 'n Chinese seerower, Coxinga, van die Hollanders afgeneem is, het die geld in die skatkis van Batavia beland, waar dit toe reeds vir etlike jare gelê het.
Dié geld is op 18 en 19 April 1690 aan die Hugenote uitgedeel. Jacques Malan het 115 gulden ontvang.
Jacques het waarskynlik aanvanklik saam met Pierre Jourdan en Jean Jourdan in Groot-Drakenstein geboer. Tot 1691 word hulle drie as “compagnons” op die monsterrolle aangegee, maar vanaf 1692 af verskyn hulle name apart.
In Oktober 1694 het Pierre Jourdan die plaas Cabriére en Jean Jourdan La Motte in Oliphants Hoek (vandag Franschhoek) ontvang. Jacques Malan het toe waarskynlik saam met Jean op La Motte geboer.
Ná Jean Joudan se dood in 1698 is Jacques Malan in 1699 met sy weduwee, Isabeau le Long, getroud. Isabeau was toe reeds die moeder van vyf kinders.
Deur sy huwelik met Isabeau het Jacques in besit gekom van La Motte. Die plaas was 61 morg 200 kwadraatroede groot en daar was slegs 'n karig gemeubileerde houthut vir bewoning. Jacques het die grondbrief van La Motte “door versuijm” eers op 18 Desember 1713 ontvang. La Motte is reg langs die Hugenotemonument in Franschhoek geleë.
Jacques het ook Jean se plaas De Faisantekraal by Vissershok deur sy huwelik met Isabeau in besit gekry.
Jacques Malan was betrokke in Adam Tas se stryd teen die korrupte regering van Willem Adriaan van der Stel. Hy is een van die dertig Franse wat die klagskrif teen Van der Stel onderteken het.
Op 19 Februarie 1706 word Jacques aangesê om Van der Stel se teenversoekskrif voor landdros Starrenburg te onderteken. Hy weier en sê dat hy “zulks met geen geruste conscientie kunnen doen”. Daarop dreig Starrenburg om sy plaas van hom af weg te neem.
Op 24 Februarie 1706 kom Jacques Malan en Estienne Niel teen middernag te perd by Adam Tas aan. Hulle stel saam 'n verklaring op en onderteken dit. Dié verklaring sou later as die eerste deel van die sogenaamde Contra-Deductie opgeneem word.
Jacques en Estienne drink ten slotte 'n afskeidsdrankie saam met Adam Tas voordat hulle weer na Drakenstein vertrek. Die twee ruiters neem ook 'n brief van Tas aan Francois du Toit saam.
Nadat Willem Adriaan van der Stel uiteindelik in 1709 na Nederland teruggeroep is, is sy plaas Vergelegen, naby die huidige Somerset-Wes, in vier verdeel en opgeveil. Jacques het die deel bekend as Morgenster op 28 Mei 1711 gekoop. Morgenster was 171 morg 75 vierkantroede groot. Jacques en sy gesin het toe op Morgenster gaan woon.
Op 7 Junie 1702 koop Jacques Malan twee plase van Jean Gardé. Die plase, Languedoc by die Paarl en La Rhone in Groot-Drakenstein, het hy albei op 12 Mei 1708 aan sy stiefseun, Pierre Jourdan, oorgedra. Op 25 April 1719 verkoop hy ook La Motte aan Pierre.
Gedurende 1709 het Jacques verskeie ander plase in die Paarl gekoop. Op 1 Junie koop hy Sint Martijn, noord-noord-oos van Ezels Kloof en Paarl Diamant, van Gerrit Jansz van Deventer en op 3 Julie Rheboks Kloof van Dirk van Schalkwyk. Laasgenoemde plaas grens aan Paarl Diamant en was net 3 jaar in Jacques se besit, want hy verkoop dit op 19 Februarie 1712 weer aan Henning Viljoen.
Jacques koop ook Waterpoel in Agter-Paarl van Dirk van Schalkwyk. Dié plaas is ook in 1712 aan Henning Viljoen verkoop. Jacques verkoop ook Sint Martijn op 28 Augustus 1719 aan Berg Boosz.
Op 1 September 1724 koop Jacques 'n deel van Cloetenburg by Barend Pieterse en op 23 Oktober 1726 koop hy erf nommer 112 in die Tafelvallei (Kaapstad) uit die bestorwe boedel van Isaac Josef. Op 18 Januarie 1732 koop Jacques twee plase, De Kromme Rivier en Dwars in de Weg, uit die bestorwe boedel van Roelof Jonas (waarskynlik Robbert Jansz). Dié twee plase is weer op 17 Julie 1732 aan Pieter Venter verkoop.
Op 10 Junie 1729 dra Jacques die plaas De Doorne Kraal, by Perdeberg, Onder-Drakenstein, aan sy jongste seun, David, oor. Dit is nie bekend wanneer Jacques in besit van De Doorne Kraal gekom het nie. Morgenster is reeds op 9 Mei 1725 aan sy oudste seun, Daniel, oorgedra. Jacques en Isabeau het egter tot hul dood op Morgenster bly woon.
In 1736 het die opstal op Morgenster bestaan uit 'n voorhuis, 'n kombuis, 'n solder en 'n wynkelder. Daar was, soos gebruiklik in daardie tyd, geen spesifieke slaapkamers nie. Die teenwoordigheid van 'n solder dui daarop dat daar 'n plafon moes gewees het, wat uitsonderlik vir 'n huis in die vroeë agttiende eeu was.
Jacques se laaste bekende grondtransaksie was die verkoop van twee erwe in Tafelvallei en die plaas Duymeling aan Mauritz Godlob op 20 Mei 1733.
Volgens die voorafgaande geskiedenis lyk dit of Jacques 'n ywerige grondspekulant was. Sy boerdery het egter ook vooruitgegaan. Teen 1700 het Jacques reeds 'n aantal perde, beeste, skape en varke besit. Hy het ook koring geoes en druiwe gepars. Hy het ook toe reeds drie slawe besit.
Teen 1733 was Jacques 'n welgestelde boer met 32 slawe, 50 perde, 140 beeste en 900 skape.
Jacques was vir baie jare lid van die Stellenbosse kerkraad, vanaf 1716 as diaken en vanaf 1724 as ouderling. Van Augustus tot Desember 1717 het hy as diaken toesig gehou oor die aanry van bouklip en hout vir die bou van die nuwe kerk nadat die eerste kerk van Stellenbosch afgebrand het. In 1722 het Jacques 'n stewige stinkhoutbalk vir die nuwe kerk se klok geskenk.
Toe Isabeau in 1737 sterf, is sy in graf nommer 8 binne-in die Stellenbosse kerk begrawe. Jacques het dié graf waarskynlik reeds in 1722 gekoop toe die eerste 10 grafte deur die kerkraad verkoop is. Sy twee kleindogters, Magdalena en Susanna Magdalena, Daniel se kinders, is ook later in dieselfde graf begrawe. Jacques is in 1742 oorlede en hy is ook in graf nommer 8 begrawe.
'n Gedenkplaat ter nagedagtenis aan Jacques en Isabeau Malan is op 2 Oktober 1993 in die kerk van Stellenbosch onthul.
Kinders van JACQUES MALAN en ISABEAU LE LONG:
1 Jacobus, gebore 2 Julie 1700.
2 Elisabeth Anna, gebore 30 November 1701.
3 Daniel, gebore 11 September 1703.
4 Maria, gebore 6 April 1705.
5 Catharina, gebore 20 Maart 1707.
6 David, gebore 19 Julie 1708.
7 Jacob, gebore 8 November 1710.
JACOBUS is jonk dood.
ELISABETH ANNA is op 29 April 1725 op Stellenbosch getroud met Hermanus Kriel van Hanau in Duitsland. Hermanus was aanvanklik 'n soldaat, later 'n bakker en uiteindelik 'n boer op Paarl Diamant, Drakenstein. Hermanus was vantevore getroud met Maria Steyn. Ná sy dood in 1739 is Elisabeth hertroud met Johann Caspar Schlee van Schlieben in Duitsland. Hermanus Kriel het 'n seun en 'n dogter by sy eerste vrou gehad, maar die seun is nooit getroud nie. By Elisabeth Anna het hy nog agt kinders gehad. Sy is dus die stammoeder van die Kriels in Suid-Afrika.
DANIEL is op 8 Augustus 1724 op Stellenbosch getroud met Maria Verdeau, dogter van Hercule Verdeau en Maria Catharina Wibaut (of Huibeaux). Maria was toe 24 jaar oud, dus drie jaar ouer as Daniel. Sy was die weduwee van Daniel se oom, Pierre Jourdan, broer van Jean Jourdan.
Die plaas Morgenster is in 1725 op Daniel se naam oorgedra. Hy het ook Cloetenburg in 1732 van Claas Louw gekoop. Dit is nie bekend wanneer Louw dié plaas van Daniel se vader, Jacques gekoop het nie.
Die gemeente van Stellenbosch was van 1726 tot 1732 vakant nadat ds Beck vertrek het. Gedurende daardie ses jaar is die gemeentewerk deur 'n paar ouderlinge, waaronder Daniel Malan, gedoen.
In 1732 het Daniel heemraad vir Stellenbosch geword. Dié amp het hy tot 1760 beklee. As deel van sy pligte moes hy toesien dat die pas oor die Hottentots-Hollandberge herstel word. Hy het waarskynlik van buskruit gebruik gemaak om "die klippe te laat spring" soos 'n tydgenoot die werk beskryf het. Daniel moes geld vir die herstelkoste van die boere van Hottentots-Holland insamel en het self 20 riksdaalders bygedra.
In 1739 beveel Daniel saam met die landdros en heemrade van Stellenbosch aan dat die bedrag wat vir die inlewering van dooie leeus, tiers en wolwe uitbetaal is, verminder moes word aangesien daar nie meer so 'n groot gevaar van wilde diere in die distrik was nie.
Daniel se boerderybedrywighede het toegeneem en in die opgaafrol van Stellenbosch van 1731 word aangeteken dat hy reeds 10 slawemans en drie slawevrouens in sy diens gehad het. Hy het toe 10 perde, 50 beeste, 350 skape en 6 varke besit. Hy het 20000 wingerdstokkeop sy plaas gehad waarvan hy 20 lêer wyn gepars het. Hy het ook 15 mud koring gesaai en 100 mud geoes. Daniel het op daardie tydstip 'n snaphaan en 'n degen besit waarmee hy sy gesin kon beskerm.
In dieselfde jaar ontvang Daniel weiregte by Botrivier in die Hottentots-Hollandkloof. Twee jaar later kry hy weiregte op Potjeskraal aan die Breërivier.
In 1742 ontvang Daniel weiregte op De Rust aan die Rheeboksrivier in Klein Houwhoek en op Elberskraal aan die Gouritzrivier.
Daniel was egter nie altyd tevrede met die Kompanjie se boerderybeleid nie, want in 1744 teken hy 'n versoekskrif dat die prys van koring nie van 8 na 7 riksdaalders verlaag moes word nie. Daar is in die versoekskrif aangevoer dat die oeste van 1738, 1739 en 1740 swak was en dat arbeid baie duur was. Die prys van 'n slaaf was toe reeds 300 riksdaalders.
Maria ontval Daniel in 1750 en Daniel hertrou in Desember van dieselfde jaar met Emerentia Steyn, weduwee van Arnoud Schephout. Emerentia se ouers was Jacobus Steyn en Maria Potgieter.
In 1752 koop Daniel De Laaste Gift ('n deel van Vergelegen) van Andries Schutte. Dié plaas was later bekend as Lourensford. In 1756 word Cloetenburg aan Daniel se seun, Daniel Wynand, oorgedra.
Teen 1757 het Daniel, volgens daardie jaar se opgaafrol, 1 kneg, 38 slawe, 20 perde, 70 beeste, 300 skape en 50000 wingerdstokke gehad. Sy oes was 40 lêer wyn en 40 mud koring. Hy het ook 'n verdere 170 beeste en 800 skape op sy veeplaas in die Swellendam-distrik gehad.
Emmerentia is in 1762 oorlede en Daniel in 1770. Daniel is saam met albei sy vrouens in graf nommer 86 in die kerk van Stellenbosch begrawe.
Ná Daniel se dood is De Laaste Gift aan Martin Melck verkoop terwyl Jacobus, Daniel se jongste seun, Morgenster gekry het.
Kinders van DANIEL MALAN en MARIA VERDEAU:
1 Maria Elisabeth, gedoop 29 Junie 1725.
2 Magdalena, gedoop 27 Julie 1727.
3 Jacobus Hermanus, gedoop 27 Novermebr 1729. *
4 Daniel Wijnand, gedoop 9 September 1731.*
5 Hercules Adriaan, gedoop 7 Februarie 1734.
6 Helena Catharina, gedoop 11 Maart 1736.
7 Susanna Magdalena, gedoop 3 Maart 1739.
8 David, gedoop 22 Januarie 1741.
9 Petrus Gerhardus, gedoop 19 Maart 1744.
Maria Elisabeth is op 28 April 1743 getroud met Josias de Kock. Josias se pa was Servaas de Kock van Middelburg in Zeeland en sy ma Susanna van Boven.
Magdalena is jonk dood en is in graf nommer 8 in die Stellenbosse kerk begrawe.
Jacobus Hermanus is op 7 Maart 1756 op Stellenbosch getroud met Anna Elisabeth Louw, dogter van Nicolaas Louw en Anna Maria Conterman.
Daniel Wijnand is op 26 Desember 1753 op Stellenbosch getroud met Elsabe Wium, dogter van Pieter Wium en Anna de Haase.
Hercules Adriaan is op 6 Maart 1763 getroud met Maria Rosina Loubser, dogter van Pieter Loubser en Johanna Eksteen. Slegs een kind, Johann Petronella, is uit dié huwelik gebore.
Hercules het as diaken op die Stellenbosse kerkraad gedien. Hy was ook heemraad vir Stellenbosch en Drakenstein.
Hercules het in 1761 die plase Vredenburg en Vlottenburg uit die boedel van Jean de Villiers en Anna Hugo gekoop. Hy het albei die plase weer in 1772 aan Paul Roux verkoop.
Hercules het tussen 1762 en 1767 weiregte op Rietfontein en Welgelegen aan die Buffelsrivier, onder die Roggeveld, verkry.
As lid van die Burgerdragonders van Stellenbosch is Hercules in 1766 van kornet na tweede luitenant bevorder en in 1770 tot eerste luitenant. Hy vra in 1776 vir sy ontslag weens swak gesondheid. Die versoek is blykbaar toegestaan, want in dieselfde jaar word ene De Vos in sy plek as eerste luitenant aangestel.
Na Hercules se dood is Maria in 1778 getroud met Martin Melck.
Helena Catharina is op 22 Julie 1759 op Stellenbosch getroud met Willem Morkel, seun van Philip Morkel en Catharina Pasman, Willem en Helena het op Morgenster gewoon.
Susanna Magdalena is jonk dood en is saam met haar suster en ouma in graf nommer 8 in die Stellenbosse kerk begrawe.
David is op 17 Maart 1768 getroud met Helena Catherina Vlok, dogter van Nicolaas Vlok en Christina Maasdorp. David en Helena het vyf dogters gehad en het op die plaas De Hoop, naby Pottenberg, gewoon.
David het ook die plaas Helderberg in Hottentots-Holland van 1798 tot 1807 besit. Hy het dié plaas van 'n De Villiers gekoop en weer aan 'n De Villiers verkoop.
In 1773 is David in die Burgerdragonders van wagmeester tot adjudant bevorder.
Petrus Gerhardus is jonk dood.
Kinders van DANIEL MALAN en EMERENTIA STEYN:
1 Jacobus, gedoop 25 Junie 1752.*
2 Elisabeth, gedoop 21 Oktober 1753.
3 Anna Maria, gedoop 28 November 1756.
4 Maria Isabella, gedoop 6 Augustus 1758.
Jacobus is op 13 Augustus 1772 op Stellenbosch getroud met Catharina Morkel, dogter van Willem Morkel en Sara van Brakel.
Elisabeth is op 27 Oktober 1771 in die Paarl getroud met haar neef, David Malan. Hy was 'n seun van David Malan en Elisabeth Marais.
Anna Maria is op 19 Julie 1772 op Stellenbosch getroud met Eduard Wium, seun van Pieter Wium en Anna de Haase.
Maria Isabella is jonk dood.
MARIA is op 30 April 1724 op Stellenbosch getroud met Adriaan Louw, seun van Jacobus Louw en Maria van Brakel. Adriaan het op De Goede Ontmoeting by Philadelphia geboer. Hy het ook die veepos Louwshoek by Dassenboschrivier en De Voorsorg bu Goudini besit. Adriaan en Maria het mekaar waarskynlik op Stellenbosch ontmoet aangesien Adriaan sy jeugjare op Elsenburg by Stellenbosch deurgebring het.
CATHARINA is jonk dood.
DAVID is op 17 April 1735 getroud met Eleonora Melius. Eleonora se pas was Johann Heinrich Melius van Grossheringen in Duitsland. Johann Heinreich was alom bekend as Jan Hendrik en ws ten tye van sy dood in 1734 barbier en chrirurgyn op Stellenbosch. Eleonar se ma was 'n Hugenotedogter, Hester Roux.
In 1749 koop David die plaas Niet Voorbij in Drakenstein van die weduwee Susann Visser.
Eleonora is aan die begin van 1750 oorlede en David is op 22 November van dieselfde jaar getroud met Elisabeth Marais, dogter van Stephanus Marais en Maria Elisabeth de Villiers.
In 1753 koop David 'n plaas van 61 morg, De Verrekijker, in die distrik Waveren van die weduwee Susanna Pauw. Dié plaas is weer in 1769 aan sy oudste seun, Jacobus Johannes, oorgedra. David moes intussen die aangrensende grond gekoop het, want De Verrekijker se grootte is toe aangegee as 400 morg.
David het blykbaar aanvanklik op De Doorne Kraal, by Paardeberg in Onder-Drakenstein, gewoon. Hy het in 1766 na Cuijpers Kraal aan die Koeberg, naby die huidige Durbanville, getrek. David het dié plaas reeds op 16 November 1743 van Johannes Moller gekoop.
In 1761 verkry David weireg op Avontuur aan die Leeurivier agter Swartberg en in 1762 op Welgemoed aan die Leeurivier duskant Swartberg. In 1768 kry hy ook weireg op Vrolijkheid agter die Swartberg oorkant die Leeurivier. Vrolijkheid is vroeër deur Barend Liebenberg ontruim.
In 1775 koop David die plaas De Fortuijn, naby die huidige Gordonsbaai, van Petronella van den Heever, weduwee van Mattian le Roux. In 1776 vra hy nog ses morg grond langs De Fortuijn aan om 'n wingerd op te plant en in 1777 koop hy 489 morg ten ooste van De Fortuijn. Laasgenoemde plaas kry later die naam Knorhoek. Knorhoek is reeds in 1780 aan David se seun, Jacob, oorgedra. Die finale ondertekening van die dokumente van oorgawe tussend generaal Jan Willem Jansens en generaal-majoor Ferguson het in 1806 op Knorhoek plaasgevind.
In 1781 vra David nog saaigrond lang Cuijpers Kraal aan.
David was 'n welvarende boer wat teen 1782 baie vee besit het. Hy het toe 27 slawe in sy diens gehad. Hy was ook vir baie jare ouderling in die Swartlandse gemeente.
David Malan is in 1792 op Cuijperskraal oorlede en daar begrawe. Elisabeth is 10 jaar later, in 1802, oorlede.
Kinders van DAVID MALAN en ELEONORA MELIUS:
1 Hester Elisabeth, gebore 4 Maart 1736.
2 Maria, gebore 28 Maart 1737.
3 Jacobus Johannes, gebore 10 April 1739.*
4 Daniel, gebore 22 Oktober 1741.*
Hester Elisabeth is waarskynlik jonk dood.
Maria was getroud met Adriaan Louw, seun van Pieter Louw en Elisabeth Wendels. Hulle het op De Goede Verwachting by Dassenbos gewoon.
Johannes Johannes is op 5 September 1762 in die Paarl getroud met Anna Aletta Retief, dogter van Francois Retief en Anna Marais. Hy hertrou op 19 Junie 1796 in Kaapstad met Aletta Bosman, dogter van Hermanus Bosman en Maria Marais.
Daniel is op 12 Februarie 1764 in die Paarl getroud met Geertruida Marais, dogter van Jacob Marais en Maria Elisabeth Boeiens. Hy hertrou op 9 Mei 1784 op Stellenbosch met Debora Naudé, dogter van Jacob Naudé en Anna Susanna du Toit.
Kinders van DAVID MALAN en ELISABETH MARAIS:
1 David, gebore 11 September 1751.*
2 Maria Elisabeth, gebore 13 April 1754.
3 Stephanus, gebore 16 Desember 1756.*
4 Elisabeth Margaretha, gebore 20 Februarie 1760.
5 Jacob, gebore 21 November 1762.*
David is op 27 Oktober 1771 in die Paarl getroud met sy niggie, Elisabeth Malan, dogter van Daniel Malan en Emerentia Steyn.
Maria Elisabeth is op 10 Februarie 1771 in die Paarl getroud met Hendrik Cornelis Engela, seun van Jürgen Heinrich Engela en Anna van Staden. Sy hertrou op 28 Augustus 1791 in Kaapstad met David de Villiers, seun van Pieter de Villiers en Elisabeth Joubert.
Stephanus is op 9 Februarie 1794 in die Swartland getroud met Margaretha Adelheyt Hendriks, dogter van Hieronymus Hendriks en Louisa Scheffer.
Elisabeth Margaretha is op 26 Mei 1776 in die Swartland getroud met Adriaan de Nicker, seun van Pieter de Nicker en Johanna Greef. Sy hertrou op 25 Februarie 1871 in die Swartland met Francois de Villiers, seun van Pieter de Villiers en Elisabeth Joubert.
Jacob is op 11 Januarie 1784 getroud met Cornelia Mostert, dogter van Louis Mostert en Cornelia Strydom.
JACOB is jonk dood.




