8. Die Nageslag van Jacobus Hermanus Malan (1729-1768)
Jacobus Hermanus, oudste seun van Daniel Malan, is op 27 November 1729 op Stellenbosch gedoop. Hy word groot op Morgenster en trou op 7 Maart 1756 op Stellenbosch met Anna Elisabeth Louw, dogter van Nicolaas Louw en Anna Maria Conterman.
Voor sy huwelik het Jacobus skape op Rietfontein, anderkant die Kersrivier, en bokke op Rotteberg, anderkant die Hottentots-Hollandberge, aangehou. Op 11 Maart 1756, 4 dae ná sy huwelik, kry hy weiregte op Bakkeleij Plaats Drift onder die Breërivier.
Jacobus koop die plaas Libertas, digby Stellenbosch, in 1760. Dié plaas het van 1703 tot 1722 aan die bekende Adam Tas behoort. Van 1756 af het Jacobus ook weiregte op Geelbekfontein, anderkant die Buffelsrivier.
Ná slegs agt jaar op Libertas sterf Jacobus op 3 April 1768 in die leeftyd van 38 jaar. Sy weduwee trou ses maande ná sy dood met die wewenaar Johann Bernhard Hoffman. Laasgenoemde was op daardie stadium reeds die vader van twaalf kinders. Anna het drie kinders by Jacobus gehad en nog ses kinders is uit Johann en Anna se huwelik gebore. Die Hoffmans het met hulle 21 kinders op Libertas gewoon. Dit is dus geen wonder dat die oorspronklike T-plan huis in 1771 in 'n H-plan omskep is nie! Die gesin moes vermoënd gewees het, want daar is teen die einde van die agttiende eeu aan Jan Adam Hartman en sy seun opdrag gegee om die voor- en agterkamers met uitbeeldings van die bedrywighede van die Hoffmankinders te versier. Hierdie kunswerke is vandag nog op Libertas te sien.
Kinders van JACOBUS HERMANUS MALAN en ANNA ELISABETH LOUW
1 Anna Maria, gedoop 30 Januarie 1757.
2 Catharina Wilhelmina, gedoop 19 November 1758.
3 Daniel Josias, gedoop 16 November 1760.
ANNA MARIA is op 9 Mei 1773 in die paarl getroud met haar stiefbroer, Dirk Wouter Hoffman. Sy ouers was Johann Bernhard Hoffman en Catharina Elisabeth le Roux.
CATHARINA WILHELMINA is op 26 Januarie 1777 op Stellenbosch getroud met Johann Godfried Andriessen van Hamburg. Sy skei later van hom en hertrou op 2 November 1788 in Kaapstad met Adolph Jurgens van Laveran. Op 27 Augustus 1797 trou sy vir die derde keer, hierdie keer met Lambert Hendrik Fick, seun van Lambert Fick en Maria Radyn.
DANIEL JOSIAS is op 9 November 1783 op Stellenbosch getroud met Magdalena Odendaal, dogter van Johannes Odendaal en Magdalena Radyn.
In 1796 word die plaas Nooitgedacht, aan die westelike hang van Helderberg, net buite die huidige Somerset-Wes, aan Daniel toegeken. Nooitgedacht is een van die laaste plase wat in die distrik van Stellenbosch uitgereik is. Die opstal wat Daniel op Nooitgedacht gebou het, bestaan vandag nog as 'n buitegebou op die plaas Navarre.
Die grootte van Daniel se plaas, wat in erfpag aan hom gegee is, was slegs vier morg 480 vierkante roede. Die grond word in die transportakte beskryf as "Erf te Moddergat aan't oude erf van Burger Jonas van Bergen".
Daniel het diens gedoen by die burgerdragonders van Stellenbosch en is in 1795 bevorder van standaardjonker na monsterskrywer. Laasgenoemde rang het behels dat hy rekord moes hou van die burgerdragonders se bywoning van die verpligte militêre oefeninge.
Daniel sterf op 26 April 1803. Hy was toe slegs 42 jaar oud. Magdalena oorleef hom met 27 jaar en sterf in 1830 op 70jarige ouderdom op Nooitgedacht.
Kinders van DANIEL JOSIAS MALAN en MAGDALENA ODENDAAL:
1 Magdalena Catharina, gedoop 8 Augustus 1784.
2 Johannes Jacobus, gebore 18 September 1786.
3 Daniel Wouter, gedoop 22 Maart 1789.
4 Anna Susanna, gedoop 10 Julie 1791.
5 Jacobus Wilhelmus, gedoop 24 November 1793.
Magdalena Catharina is waarskynlik klein dood.
Johannes Jacobus is op 7 Oktober 1815 op Stellenbosch getroud met Sophia Margaretha van Brakel, dogter van Hermanus Johannes van Brakel en Maria Johanna Pas.
Johannes het die huidige woonhuis op Nooitgedacht (tans Navarre) vir hom en sy bruid gebou. Op die gewel is die inskripsie JJM 1815 aangebring. Dié Kaaps-Hollandse opstal word as een van die mooistes in die Kaap beskou.
Twee jaar voor Johannes se huwelik is Nooitgedacht met 13 morg vergroot. Alhoewel Johannes eers in 1830 oordrag van die plaas van sy oorlede moeder se boedel verkry het, moes hy toe reeds jare lank die boedery behartig het.
Johannes is in 1833 op 47jarige leeftyd oorlede. Sophia is in 1874 oorlede. Sy was toe 82 jaar oud.
Daniel Wouter is op 7 Junie 1817 getroud met Maria Susanna Delport, dogter van Ignatius Gerhardus Delport en Maria Susanna Odendaal. Op 2 Februarie 1833 hertrou Daniel op Stellenbosch met Elisabeth Adriana Louw, dogter van Jan Louw en Susanna Geertruida de Villiers. Daniel was toe 49 jaar oud en sy bruid slegs 19.
Daniel koop in 1824 'n deel van die plaas Zandberg (tans Scholtzenhof). Hy noem die plaas Verdruk-mij-Niet en bou in 1837 'n nuwe huis op die plaas. Dié huis is later in 'n wynkelder verander en word vandag as stoor gebruik. Die inskripsie DWM 1837 kom op die gewel voor. Verdruk-mij-Niet is omtrent 'n kilometer wes van Nooitgedacht, waar Daniel grootgeword het.
In 1838 koop Daniel ook 4 morg en 91 vk roede grond van A. P. de Villiers se plaas Helderberg.
Daniel voltooi in 1853 sy nuwe woonhuis, maar word verplig om Verdruk-mij-Niet te verkoop as gevolg van die skuld wat hy moes aangaan om sy nuwe huis te bou. Verdruk-mij-Niet is vandag bekend as Happy Vale en is met sy wit ringmuur tussen die wingerde 'n bekende baken op die pad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.
Daniel het daarna na Houwhoek in die Caledondistrik verhuis en hy is daar op 29 Januarie 1866 op sy plaas De Rust oorlede. Elisabeth is op 9 Julie 1872 op Durbanville oorlede.
Anna Susanna is nooit getroud nie en is op 10 Augustus 1844 op Somerset-Wes oorlede.
Jacobus Wilhelmus is blykbaar jonk dood.
