9. Die Nageslag van Daniel Wynand Malan (1731-1765)
Daniel Wynand was die vierde kind van Daniel Malan en Maria Verdeau. Hy is op 9 September 1731 op Stellenbosch gedoop. Hy trou op 26 Desember 1753 op Stellenbosch met Elsabe Wium, dogter van Pieter Wium en Anna de Haase.
Daniel ontvang in 1756 die plaas Cloetenburg van sy vader, Daniel. Hy bou daar die kern van die huidige woonhuis. In dieselfde jaar verkry Daniel ook weiregte op Fisantekraal aan die Botrivier. Hy sterf op 31 Mei 1765 te Stellenbosch in die ouderdom van slegs 33 jaar. Sy weduwee hertrou in Februarie 1766 met Hermanus Kriel, Daniel se neef.
Kinders van DANIEL WYNAND MALAN en ELSABE WIUM:
1 Daniel, gedoop 20 Julie 1755.
2 Anna Maria, gedoop 30 Julie 1758.
3 Pieter, gedoop 28 September 1760.
4 Maria Helena, gedoop 16 Oktober 1763.
DANIEL was nooit getroud nie. Volgens die dokumente van die Politieke Raad is die kontrak vir die lewering van steenkalk vir die bou van 'n nuwe hospitaal in die Kaap in 1779 aan hom toegeken. Daniel is op 7 Februarie 1835 in sy suster, Maria Helena, toe 'n weduwee, se huis in Somerset-Wes oorlede.
ANNA MARIA is op 25 Mei 1777 op Stellenbosch getroud met Hendrik Christiaan van Coller, seun van Adolph Johann Heinrich von Cöller en Maria Elsje Groenewald. Hendrik en Anna is later geskei.
PIETER is op 22 April 1792 op Stellenbosch getroud met Elsabe Reynierse, dogter van Johannes Jacobus Reynierse en Maria Sophia Wium. Pieter is in 1841 oorlede en hy is uit die kerk van Stellenbosch begrawe. Elsabe is in 1844 oorlede.
Kinders van PIETER MALAN en ELSABE REYNIERSE:
1 Daniel Wyand, gedoop 9 September 1792.
2 Maria Johanna, gedoop 3 Augustus 1794.
3 Elsabe Maria, gedoop 17 Julie 1796.
4 Petronella Helena, Maart 1800.
5 Johannes Jacobus Reynierse, gedoop 6 Desember 1801.
6 Petrus Johannes, gebore 23 Oktober 1803.
7 Eduard Jacobus, gebore 17 Augustus 1805.
8 Pieter Adolph, gebore 5 Desember 1807.
9 Johannes Reynierse, gebore 1813.
10 Eduard Michiel, gebore 13 Junie 1815.
Daniel Wynand is op 6 Julie 1816 op Stellenbosch getroud met Anna Maria Fick, dogter van Christiaan Fick en Anna Jacomina Theunissen. Anna is in 1848 oorlede. Daniel is in 1854 in die Hantam oorlede. Sy enigste kleinseun wat volwassenheid bereik het, Christiaan Jacobus, was nooit getroud nie. Christiaan se ouer broer, Pieter Daniel, is klein dood.
Maria Johanna is op 7 Oktober 1820 getroud met Christinaan Zacharias Fick, 'n broer van Anna Maria Fick wat met Maria se broer, Daniel Wynand, getroud was.
Elsabe Maria is op 18 Augustus 1816 op Stellenbosch getroud met Abraham Johannes Fick, seun van Paulus Johannes Fick en Magdalena Hartogh.
Petronella Helena is op 11 maande ouderdom oorlede.
Johannes Jacobus Reynierse is op 4 Junie 1827 op Stellenbosch getroud met Maria Magdalena Justina Metzler, dogter van Philip Lodewyk Metzler.
Petrus Johannes is op 1 jarige ouderdom oorlede.
Eduard Jacobus is op 18 maande oorlede.
Pieter Adolph was nooit getroud nie en is in 1839 in die ouderdom van 31 jaar oorlede.
Van Johannes Reynierse en Eduard Michiel is niks verder bekend nie. Hulle is waarskynlik albei klein dood.
MARIA HELENA is op 23 November 1783 op Stellenbosch getroud met Douw Gerbrand Steyn, seun van Jacobus Steyn en Susanna Fourie.
Met die afsterwe van Christiaan Jacobus Malan op 8 Februarie 1858 het hierdie tak van die Malan-familie in die manlike lyn tot 'n einde gekom.
