10. Die Nageslag van Jacobus Malan (1752-1778)
Jacobus was die oudste kind en enigste seun van Daniel Malan by sy tweede vrou, Emerentia Steijn. Hy is op 13 Augustus 1772 op Stellenbosch getroud met Catharina Morkel, dogter van Willem Morkel en Sara van Brakel.
Jacobus het Morgenster in 1770 van sy vader Daniel geërf. Ná Jacobus se vroeë dood in 1778 het sy weduwee, Catharina, in 1779 die monogram DM op die gewel van 'n nuwe buitegebou laat aanbring.
Catharina is op 5 Februarie 1780 hertroud met Rudolph Johannes Laubscher. Hulle het op Morgenster bly woon maar die plaas Vergelegen, wat Jacobus vantevore gekoop het, is toe verkoop aan Jacobus se neef David Malan. Rudolph Laubscher het dié plaas egter weer in 1789 gekoop. Rudolph het ook die huis Lelienblum in die huidige Mowbray laat bou.
Kinders van JACOBUS MALAN en CATHARINA MORKEL:
1 Sara Catharina, gedoop 12 September 1773.
2 Emerentia Elisabeth, gedoop 1 Oktober 1775.
3 Daniel Jacobus, gebore 2 Februarie 1778.
SARA CATHARINA is op 5 Mei 1793 op Stellenbosch getroud met Marthinus Wilhelmus Theunissen, seun van Marthinus Aegidius Theunissen en Anna Maria Lourens.
EMERENTIA ELISABETH is op 5 November 1797 op Stellenbosch getroud met Wilhelmus Hendricus Theunissen, 'n jonger broer van Marthinus Wilhelmus.
DANIEL JACOBUS is op 22 Mei 1803 op Stellenbosch getroud met Alida Brink, dogter van Jan Brink en Maria Elisabeth Hendriksz.
Daniel het die plaas Altona in 1805 by Wouter de Vos gekoop. Toe die gemeente van Somerset-Wes op 10 Augustus 1819 gestig is, was Daniel een van die eerste vier diakens wat tot die kerkraad verkies is.
Kinders van DANIEL JACOBUS MALAN en ALIDA BRINK:
1 Maria Elisabeth, gedoop 20 Mei 1804.
2 Catharina Jacoba, gebore 26 Desember 1805.
3 Daniel Jacobus, gebore 30 April 1807.
4 Jacobus Daniel, gebore 29 Maart 1809.
5 Susanna Justina, gebore 14 Oktober 1810.
6 Sara Catharina, gebore 6 Maart 1812.
7 Johannes, gebore 15 Augustus 1813.
8 Daniel Jacobus, gebore 20 Augustus 1815.
9 Johanna Maria Cornelia, gebore 6 Maart 1817.
10 Alida Elisabeth, gebore 12 Julie 1819.
11 Emerentia Elisabeth, gebore 4 Junie 1822.
Maria Elisabeth, Catharina Jacoba en Daniel Jacobus is aldrie jonk dood.
Jacobus Daniel is op 9 Junie 1840 in Kaapstad getroud met Elisabeth Brink, dogter van Stephanus Brink en Elisabeth Voltelen. Jacobus het op Harmonie te Somerset-Wes geboer en hy is op 18 Julie 1873 op sy plaas oorlede. Elisabeth is reeds op 28 Maart 1870 oorlede.
Susanna Justina is op 2 Februarie 1843 in Kaapstad getroud met James Edgar, seun van Maxwell Edgar. James was 20 jaar ouer as Susanna en was vantevore getroud met Elizabeth Smith.
James Edgar was een van die Skotse predikante wat deur goewerneur Charles Somerset gewerf is om die tekort aan predikante in die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Kaap te help verlig. Die idee was dat hierdie predikante moes help om hulle Hollandssprekende lidmate te verengels. Baie van die predikante het egter mettertyd verafrikaans! James Edgar was ongelukkig iemand wat nooit sy Hollandse uitspraak vervolmaak het nie en daar was baie klagtes van lidmate wat glad nie sy Nederlandse preke kon volg nie.
Sara Catharina is op 19 Junie 1838 op Somerset-Wes getroud met David Johannes Petrus Buissiné, seun van Petrus Stephanus Buissiné en Anna Magdalena de Villiers.
Johannes is jonk oorlede.
Daniel Jacobus is op 23 Junie 1846 op Somerset-Wes getroud met Sarah Catharina Morkel, dogter van Hendrik Johannes Morkel en Catharina Jacoba Theunissen. Daniel het in 1855 een van die eerste erwe in Gordonsbaai gekoop en was, volgens Sarah se sterfkennis, 'n boer. Daniel was ook 'n ouderling in die gemeente van Somerset-Wes. Sy seun, Daniel Jacobus, gebore 1847, is in 1912 tot burgemeester van Somerset-Wes verkies. Sarah is in 1902 en Daniel in 1903 oorlede.
Johanna Maria Cornelia is op 9 Desember 1845 op Somerset-Wes getroud met Johannes Jacobus Hendriksz, seun van Hendrik Hendriksz en Helena Catharina Morkel.
Alida Elisabeth is nooit getroud nie. Sy was bekend as as Tant Alie en het die huis De Hoop in Hoofstraat, Somerset-Wes, besit. Dié huis was vantevore bekend as De Groot Verwachting en meer onlangs eenvoudig as Oude Huis. Tant Alie het 'n gedeelte van die huis bewoon en die ander deel verhuur. Sy is op 29 September 1904 op 85 jarige ouderdom in Somerset-Wes oorlede.
Emerentia Elisabeth is op 23 Junie 1846 op Somerset-Wes getroud met Daniel Johannes Morkel, seun van Hendrik Johannes Morkel en Catharina Jacoba Theunissen. Hulle het op Onverwacht, Somerset-Wes geboer.
Daar is geen lewende Malan-afstammelinge van Jacobus Malan in die manlike lyn nie.
Verskeie lede van hierdie tak van die Malan-familie is by die ou N.G. Kerk van Somerset-Wes begrawe.
