Welbedacht, Voor-Groenberg, Wellington
Toe Pieter Gideon de Villiers eienaar van die plaas Driefontein geword het, het hy bykomende erfpaggrond verkry en Driefontein in drie dele verdeel. Die een deel wat uit 35 morg 253 vierkante roede eiendomsgrond en 213 morg 227 vierkante roede erfpag bestaan het, het daarna as Welbedacht bekend gestaan. Na Pieter se dood is Welbedacht op 11 Mei 1827 aan Andries Petrus Zeeman verkoop. Op 28 Februarie 1842 verkoop Andries die plaas aan Gabriel Daniel Malan (1805-1849). Gabriel verkoop op 9 September 1849 die plaas aan sy jonger broer Francois Johannes Daniel Malan (1827-1901).
